Pro14: Cheetahs, Kings kry albei tweede pak op toer

Dit was nie ʼn wedstryd wat die Cheetahs sal wil onthou nie – en die Kings het volgens gewoonte weer verloor, hoewel hulle met durf gespeel het.

Hulle het albei Vrydagaand ook hulle tweede van drie oorsese wedstryde verloor nadat albei ook verlede week pak gekry het.

Die Cheetahs is Vrydagaand met 35-23 deur die voorloper in die Pro14-reeks, die Glasgow Warriors, behoorlik ore aangesit nadat die Vrystaters rustyd net met 10-15 agter was.

Dissipline, gate in hulle verdediging wat die afgelope weke toenemend ʼn probleem begin word het, en swak beskerming van besit wat telkemale maklike omkeerbesit aan die tuisspan gegee het, het die Cheetahs feitlik deurgaans op die agtervoet gehad.

Daar was wel die goeie dog opportunistiese drie toe Malcolm Jaer na ʼn wegbreek van feitlik die Cheetahs se eie doellyn gaan druk het, maar vyf drieë teen net een in elke helfte vertel duidelik wie baas was.

Dit word ook deur die statistiek gestaaf. Die tuisspan het sowat 63 persent besit en gebiedsvoordeel gehad, die bal 57 keer teenoor 26 gedra, en moes net 41 teenoor die Vrystaters se 115 duikslae uitvoer.

Terwyl die Warriors nou reeds 65 ligapunte na 15 wedstryde het en klaar vir die uitspeelrondes gekwalifiseer het, begin die druk op die Cheetahs toeneem om die uitspeelrondes te haal.

Hulle speel aanstaande Vrydagaand in Swansea teen die Ospreys wat Vrydag die Kings in die tweede helfte oorheers en geklop het.

Puntemakers –

Glasgow Warriors (15) 35: Drieë: Niko Matawatu, Ruaridh Jackson, Siua Halankonuka, George Horne, Henry Pyrgos. Doelskoppe: Adam Hastings 3. Strafdoele: Hastings 2.

Cheetahs (10) 23: Drieë: Malcolm Jaer, Clayton Blommetjies. Doelskoppe: Niel Marais 2. Strafdoele: Marais 2.

Ospreys 26 Kings 12

Die Kings het Vrydagaand met durf en stewige verdediging na sowat 65 minute in Swansea nog teen die Ospreys voorgeloop, maar dit was steeds nie goed genoeg vir hulle eerste oorwinning in 15 Pro14-wedstryde nie.

Die Ospreys het met 26-12 gewen nadat hulle eers in die 68ste minuut die rustyd-agterstand van 7-12 in ʼn voorsprong kon omswaai.

Die Kings se gebrek aan besit en die uitputting ná die aanhoudende keerwerk, waar hulle 210 duikslae teen 78 moes uitvoer, het hulle saam met twee gelyktydige geel kaarte en die afstaan van 17 strafskoppe uiteindelik die wedstryd gekos.

Hulle het nooit in die tweede helfte gelyk of hulle sou punte aanteken nie.

♦  Die ommeswaai op die telbord was net ʼn kwessie van tyd nadat die Kings net in die eerste ses of so minute van die tweede helfte in beheer was.

De Ospreys het die voortou geneem ná ʼn reeks skrums op die Kings se doellyn toe ʼn strafdrie onafwendbaar was nadat Johan Smith in die voorafgaande reeks skrums met ʼn geelkaart gestraf is.

Die sewemanskrum van die Kings is keer op keer teruggedruk en was eenvoudig nie teen die tuisspan se drukkrag bestand nie.

Die Kings het in die tweede helfte met uitmuntende verdediging die beter Ospreysspan, wat egter heelwat kanse verspeel het, met puik verdediging van hulle lyn weggehou.

ʼn Tweede geelkaart, toe die plaasvervanger-flank Eital Bredenkamp hom saam met Smith in die koelkas bevind het, het tot ʼn tweede strafdrie vir die Walliesers na ʼn skrum gelei. Twee minute later het die Ospreys gaan druk en met hierdie vierde drie ook hulle bonuspunt verdien.

Puntemakers –

Ospreys (7) 26: Drieë: Tom Habberfield, 2 strafdrieë, Jeff Hassler. Doelskop: Sam Davies.

Kings (12) 12: Drieë: Michael Makase, Michael Willemse. Doelskop: Martin du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Verdediging en uithou vermoë is nou al ‘n hele paar jaar die Cheetahs se probleem in groot geselsskap. Hoeveel wedstryde het hulle nou al verloor nadat hulle rustyd en selfs tot na aan die einde voor was en eintlik nie meer moes of kon verloor het nie. Is dit swak afrigting of laksheid of ‘n geval van of ek wen of verloor ek kry tog my pay. Moet tog nie omstandighede blameer nie want hulle sê hulle is profesioneel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.