Pro14: Cheetahs, Kings weer nie opgewasse

Toe was daar Saterdag nie werklike verbetering in die pogings van die Cheetahs en die Kings in die spanne se tweede wedstryde in die Pro14 nie.

Die Cheetahs is in Limerick deeglik met 51-18 deur Rassie Erasmus se Munsterspan afgeslag. En in Galway het die Kings in ʼn foutbelaaide wedstryd waar swak dissipline in veral die eerste helfte ʼn kenmerk was, met 10-32 teen Connacht verloor.

In albei wedstryde het die tuisspanne beter geskrum en dit is veral die Kings wat in hierdie faset gesukkel het teen ʼn span wat hul laaste vyf wedstryde in die Pro14 verloor het. In die eerste helfte is die Kings swaar in die skrums gestraf.

Cheetahs vs Munster –

Vir die eerste kwart of so van die Cheetahs se wedstryd teen Munster was daar tekens dat die Vrystaters daardie verwagte stappie boontoe geneem het. Hierdie  belofte is egter weer deur middelmatige verdediging bederf teen ʼn gehaltespan wat agt keer gaan druk het.

Vier van die drieë is deur die vleuel Alex Wootton gedruk.

Die goeie eerste kwartier of so het gewys wat die Cheetahs op die aanval met goeie besit kan doen, waarvan daar te min was. En toe daar rustyd drie drieë en 22 punte teenoor die Cheetahs se ses op die telbord was, het jy geweet: hier kom ʼn groot telling.

Daar is natuurlik die verskoning van baie beserings. Dit dien egter net as verdere bewys dat die Cheetahs as franchise nie die diepte het wat in strawwe kompetisies oor lang tydperke, soos in Superrugby en die Pro14, vereis word nie.

Wat die wedstryd beklemtoon het, is dat Francois Venter beter verdien as om net nou en dan ʼn besoeker in die Springbokkamp te wees. Is Damian de Allende werklik beter as Venter?

Vir die Cheetahs, as hulle nie hulle verdediging gaan opknap nie, kan die reeks soos vir die Kings in die oorblywende 19 wedstryde teen 27 April totale nag wees.

Puntemakers –
Munster (22) 51: Drieë: Tommy O’Donnell, Alex Wootton 4, Jean Kleyn, Chris Farrell, Simon Zebo. Doelskoppe: Ian Keatley 4. Strafdoel: Keatley.
Cheetahs (6) 18: Drieë: William Small-Smith, Henco Venter. Doelskop: Robbie Petzer. Strafdoele: Petzer 2.

Connacht vs Kings –

Die Kings het, soos verlede week in hulle eerste wedstryd teen die Scarlets, gesukkel om ordentlike besit te verkry.

Hulle het wel met oorgawe verdedig, maar soos te wagte was van ʼn span wat kwalik saamgespeel en slegs ʼn paar keer saamgeoefen het, was die kommunikasie op die verdediging nie waffers nie. Daar is veral naby aan hulle doellyn gate vir die aanvallers gelos.

Die hanteerwerk was nie aanvaarbaar op hierdie vlak nie – en dit sluit vang én uitgee in. Van die min besit wat daar wel was, het te veel ook met swak oordeel verlore gegaan.

Die losvoorspelers het individueel redelik vertoon, maar die samespel en die balans tussen die drietal was nie na wense nie. Veel van die agterlyn kan daar nie gesê word nie, want hulle het weinig besit gekry.

In die tweede helfte was die Kings beter as voor rustyd, maar in ag genome dat Connacht een van die swakker spanne in die liga is, sal daar groot verbetering moet kom om te verhoed dat die seisoen vir die Kings in ʼn totale nagmerrie ontaard.

Die Kings moet nou, en baie vinnig, die soort gees en wil om te wen openbaar wat hulle afgelope paar wedstryde in die Superreeks gekenmerk het. Daarsonder wag nog baie slae.

En iets sal aan hul skrumwerk gedoen moet word.

Puntemakers –
Connacht (24) 32: Drieë: Tom Farrell, Eoghan Masterson, Ultan Dillane, Eoghan Leader. Doelskoppe: Jack Carty 3.  Strafdoele: Carty 2.
Kings (5) 10: Drieë: Berton Klaasen,  Luvuyo Pupuma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.