Pro14: Cheetahs kry slae, Kings maak (weer) skandes

(Foto: Twitter)

Een van die grootste uitdagings in die Pro14-rugbyreeks is om die vreemde toestande in Europa onder die knie te kry.

Dit het die Cheetahs Saterdag in Newport in Wallis opnuut besef toe hulle met 13-10 deur die onbesonge Dragons geklop is.

Vergeet daarvan dat die toestande in die Noordelike Halfrond in die Cheetahs en Southern Kings se kraal sou pas omdat dit byna in dieselfde tydsone is.

Gaan kyk maar na die speeloppervlak van Rodney Parade (Newport) waar die Cheetahs gespeel het: Dit het baie aan die destydse Nuweland laat dink wat die “koolplaas” deur besoekende spanne gedoop is wanneer dit gereën het.

Daar was weinig gras op, dit was ongelyk, glad en modderig, dit was boonop yskoud en die wind het gewaai.

Ja, albei spanne speel daarop, maar die Dragons het die voordeel dat hulle gewoond daaraan is.

Dis ook nie so maklik om by die kleiner stede of stadions uit te kom nie. Die Cheetahs moet eers van Bloemfontein na Johannesburg vlieg, van daar af ʼn oornagvlug na Londen haal en dan nog ʼn vlug haal of per bus byvoorbeeld na Newport reis, wat sowat 200 km van Londen af geleë is.

In Bloemfontein bereik die kwik gereeld 35 °C in die somermaande. In die Europese winter (veral as wedstryde boonop in die aand gespeel word), is dit dikwels onder vriespunt.

Die Cheetahs kan hulself skop omdat hulle verloor het. Hulle het darem ʼn bonuspunt verdien, maar hulle het nou 32 punte op die puntelys, met Leinster (61), Ulster (41) en die Glasgow Warriors (34) wat die pas in Groep A aangee.

Die Cheetahs het nou drie tuiswedstryde wat voorlê en kan steeds by die agterdeur inglip om die uitspeelrondes te haal, maar dit gaan klippe kou kos.

(Foto: Twitter)

* In Port Elizabeth het die Kings se onderrok weer lelik uitgehang toe hulle met 29-19 deur Connacht van Ierland geklop is.

Dit was weer ʼn dag van skandes maak, want Connacht se Peter Robb is vroeg in die eerste helfte afgestuur nadat hy ʼn teenstander met die elmboog bygekom het. ʼn Rukkie later is Kyle Godwin koelkas toe met ʼn geel kaart.

Maar selfs teen 13 spelers het die Kings nie die bal wyd gerek nie en eerder binnetoe gespeel om hulle vas te loop teen die verdediging.

Ai, word die span dan nie behoorlik afgerig nie?

Dis mos ook Rassie Erasmus se plig as die direkteur van afrigting van SA Rugby om in te gryp.

Hoeveel keer moet dit nog gesê word: Die Kings is bloot slaansakke en ʼn verleentheid vir SA rugby.

Hulle het net 7 punte ná 13 wedstryde in Groep B en is 17 punte agter Bennetton, wat boonop twee wedstryde minder gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Dankie Pieter Kruger, jy is reg, die Kings is inderdaad’n groot verleentheid.

Niklaas ·

Die arme Kings is die “whipping boys” van die kompetisie en geen aanwins nie . Hul doen eintlik SA se beeld nie goed nie en mag selfs later gevra word om maar hul deelname te staak.

Frans ·

Die Kings is maar ‘n samestelling van die OP,Border Bulldogs en SWD-arende.Die spanne speel nie in die Curriebeker maar in die 1ste afdeling waar die OP 3de die SWD-arende 7de en Border Bulldogs
8ste geeindig het.
Alhowel hul soms spelers van ander bonde trek verloor hul ook spelers.Die Kings kon nie die mas opkom in Super rugby waar huk 46 wedstryde speel en 11 wen (24 %) en toe uitgeskop is.Van 2017 tot 2019 speel hul 42 Pro 14 wedstryde waarvan hul slegs 3 wen (7%).Hulle vaar dus veel swakker in die Pro 14 as in Superrugby.

Ek glo nie dit het met afrigting te doen nie.Daar is net eenvoudig te min spelers van internasionale gehalte om mededingend te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.