Pro14: Cheetahs se byt lyk te veel vir Kings

Die Kings, vir die tweede keer op hulle tuisveld, speel Saterdag in hulle derde kragmeting vanjaar teen die Cheetahs in ‘n wedstryd waar daar op die oog af nie veel is om voor te speel nie.

Die Kings het tot dusver net een van hul 20 wedstryde gewen, en dit lyk amper seker dat die Cheetahs, redelik maklik, die bonuspunt sal kry wat sal verseker dat hulle in die kwarteind speel.

Dit is geen geringe prestasie in die Vrystaters se eerste seisoen van die Keltiese liga waar teen spanne van Skotland, Italië, Ierland en Wallis meegeding is nie.

Die Cheetahs het die effense druk van hierdie benodigde bonuspunt op hulself gebring met hul amper gewone insinking laat in die tweede helfte teen Munster.

Dit sal egter ʼn yslike verrassing wees as die Cheetahs verloor, wat nog te sê as hulle nie ʼn bonuspunt vir die verloorslag of die aantal drieë kan kry nie.

Gebeur dit, is daar darem nog die verdere buffer van ʼn batige punteverskil wat 23 punte beter as die Cardiff Blues s’n in. Húlle moet die Ospreys in hulle laaste wedstryd pak, vyf ligapunte kry, en die punteverskil uitwis – en hoop die Cheetahs verloor sonder ʼn bonuspunt teen die Kings.

Feitlik buite die kwessie.

Wen die Cheetahs, wag die verdedigende kampioen, die Scarlets, in kwarteind. Met die baie kompetisies waaraan die Britse spanne deelneem, kan hulle onmoontlik hulle beste spelers in elke wedstryd inspan, maar sal dit ongetwyfeld doen noudat dit by die uitspeelfase van die reeks kom.

Die kwarteind sal in Llanelli wees, en dit sal vir die Cheetahs, wat deurgaans oorsee gesukkel het, sommer baie moeilik wees om in Wallis te seëvier.

Maar dit is vir later … Eers wag die Kings, heelwat beter as ses weke gelede, maar nog lank nie op standaard vir hierdie kompetisie nie – en met die groot aantal veranderinge sekerlik nie ʼn faktor nie.

Spanne –

Kings
15 Yaw Penxe, 14 Michael Makase, 13 Jacques Nel (kapt.), 12 Ntabeni Dukisa, 11 Harlon Klaasen, 10 Masixole Banda, 9 Godlen Masimla, 8 Dries van Schalkwyk, 7 Martinus Burger, 6 Khaya Majola, 5 Bobby de Wee, 4 Stephan Greeff, 3 Rossouw de Klerk, 2 Stephan Coetzee, 1 Justin Forwooddlen Masimla. Bank: 16 Tango Balekile, 17 Dayan van der Westhuizen, 18 Luvuyo Pupuma, 19 Lindokuhle Welemu, 20 Lubabalo Mtyanda, 21 Lusanda Badiyana, 22 JP Smith, 23 JC Roos.
Cheetahs
15 Clayton Blommetjies, 14 William Small-Smith, 13 Francois Venter (kapt.), 12 Clinton Swart, 11 Rabs Maxwane, 10 Niel Marais, 9 Tian Meyer, 8 Uzair Cassiem, 7 Oupa Mohoje, 6 Paul Schoeman, 5 Reniel Hugo, 4 Charl Wegner, 3 Johan Coetzee, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Ox Nche. Bank: 16 Jacques du Toit, 17 Charles Marais, 18 Tom Botha, 19 Rynier Bernardo, 20 Henco Venter, 21 Zee Mkhabela, 22 Johan Goosen, 23 Lloyd Greeff.

Afskop: 15:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.