Pro14: Cheetahs se oomblik van waarheid

Al drie die voorste spanne in afdeling A van die Pro14-reeks speel Saterdag in Suid-Afrika in twee wedstryde wat ʼn groot invloed op die uitspeelrondes kan hê.

Vir die Cheetahs, met sy tuisveld as bondgenoot, is dit feitlik ʼn kwessie van reg of weg met net twee wedstryde wat ná sy kragmeting met die Cardiff Blues (15:00 Saterdag) voorlê.

Teen die Walliesers sal dit 80 minute van sweet verg. Cardiff het verlede naweek tuis teen die sterk Ulster met 35-17 gewen – hul vyfde opeenvolgende oorwinning. En die ou-ou cliché kom by ʼn mens op: wen word ʼn gewoonte.

Wen die Cheetahs Saterdag, moet die Blues al twee sy oorblywende wedstryde verloor en die Vrystaters albei hulle s’n in Bloemfontein wen om derde te eindig en na die uitspeelfase deur te dring.

Boonop het die Blues, soos sake nou staan met drie wedstryde wat voorlê, reeds ʼn punteverskil-agterstand van 42.

Verloor die Cheetahs, is hul lot steeds in eie hande. Hulle speel oor ʼn week tuis teen die naasvoorloper in afdeling A, Munster, en dan in die Baai teen die Kings.

Struikel die Cheetahs in een van dié twee wedstryde, en die Cardiff Blues wen aanstaande week in die baai teen die Kings in Port Elizabeth, sal die Cheetahs moet duim vashou dat die middelmatige Ospreys die week daarop die Blues in Cardiff vasvat.

Bonuspunte kan boonop ook ʼn bepalende rol speel.

Oor Saterdag teen die Blues: die Cheetahs word tuis nie sommer geklop nie. Hulle het egter die neiging om nie die doodskoot te plant nie en te veel van hulle oorwinnings tuis, is naelskraap gewen.

Southern Kings vs Munster, Saterdag 19:35

Dis uiters onwaarskynlik, selfs al speel die Kings 80 minute lank op hul allerbeste vanjaar, dat hulle Munster Saterdag in George sal klop.

Maar besoekende spanne sukkel, selfs al is daar geen vlugflouheid om te blameer nie. Dis mos weg van die bekende Ierland en Brittanje.

Munster (tweede) is tans ses punte voor die Cheetahs (derde) op afdeling A se punteleer. Verloor hulle teen die Kings, kan die Cheetahs hulle volgende week teen dieselfde Munster in die tweede plek op die punteleer inwurm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kiewiet ·

Kom Cheethas julle kan die Pro 14 reeks wen. Julle is in elkgeval beter af as die spanne in die Super 15 reeks.

Boerseun ·

as jy gelees het sal jy weet dat dit nie hul hande is nie, en kan hulle al die naweek uitgeskakel word.

Kiewiet ·

Ek weet nie wat jy bedoel met , dat dit nie hul hande is nie. Dis nie in hul hande nie maar in die Skeidsregter se hande. En as hy hulle nie gaan benadeel soos wat die meeste Skeidsregters nog al die jare met die Cheethas gemaak het nie , behoort hulle wel deur te dring na die eindronde toe.

rollie ·

Cheetahs is nie op diselfde standaard as die top Ierse spanne en Glascow nie. Daar is GEEN manier dat hulle die kompetisie sal wen nie. Sal waarskynlik uitgeskakel word voor die uitspeelrondes, die ander spanne het nou hul toetsspelers terug na die 6 nasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.