Pro14: Cheetahs wil beter, Kings soek ʼn sege

Marcell Coetzee – terug op die veld ná net vyf wedstryde in twee seisoene. (Foto:
Belfasttelegraph.co.uk)

Dis nog baie vroeg in die Pro14-reeks, maar tog lyk dit of die Southern Kings vanjaar beter gaan vaar. Maar by die Cheetahs is dinge nog duister ná twee groot pakke slae.

Albei die spanne speel die naweek tuis in die derde ronde van die nuwe seisoen se Pro14-reeks.

Cheetahs vs Glasgow, Vrystaatstadion, afskop Saterdag 19:30

Die Vrystaters, wat Saterdagaand teen Glasgow speel, herinner aan die Springbokke: ʼn Klomp jong, onervare spelers op hierdie vlak waaroor die afrigter, Franco Smith, nie kan besluit nie en by wie hy boonop basiese vaardighede moet inskerp.

Hy het sewe veranderinge aangebring vir die wedstryd in die Vrystaat-stadion, en niemand weet wat om van die “nuwe” span te verwag nie.

Hulle het nou, insluitende verlede jaar, drie Pro14-wedstryde ná mekaar verloor. Glasgow het hul laaste ses gewen.

Soos met alle Suid-Afrikaanse spanne is dit die basiese dingetjies wat krap en haper, ondermeer verdediging, hanteerwerk, opsies en die ewige weggee van besit met skoppe.

Dis is dinge wat nou op dié hoë vlak reggemaak moet word omdat dit, soos by die meeste Suid-Afrikaanse spanne, nie vroeg in hul loopbane ingeoefen is nie.

Die silwer randjie vir die Cheetahs is dat hulle naelskraap, met 26-29, in verlede jaar se tuiswedstryd teen die Skotse span verloor het. Maar ná hul gesukkel vanjaar sonder 13 van verlede jaar se spelers, behoort dit Saterdagaand vir Glasgow veel makliker te wees.

Spanne ‒
Cheetahs
15 Malcolm Jaer, 14 William Small-Smith, 13 Benhard Janse van Rensburg, 12 Nico Lee, 11 Rabz Maxwane, 10 Tian Schoeman, 9 Tian Meyer (kaptein), 8 Aidon Davis, 7 Junior Pokomela, 6 Gerhard Olivier, 5 JP du Preez, 4 Walt Steenkamp, 3 Aranos Coetzee, 2 Joseph Dweba, 1 Charles Marais. Bank: 16 Jacques du Toit, 17 Ox Nche, 18 Gunther van Rensburg, 19 Dennis Visser, 20 Niell Jordaan, 21 Marnus van der Merwe, 22 Shaun Venter, 23 Ryno Eksteen.

Glasgow
15 Ruaridh Jackson, 14 Tommy Seymour, 13 Alex Dunbar, 12 Pete Horne, 11 DTH van der Merwe, 10 Adam Hastings, 9 Ali Price, 8 Adam Ashe, 7 Callum Gibbins (kaptein), 6 Rob Harley, 5 Jonny Gray, 4 Scott Cummings, 3 Zander Fagerson, 2 Fraser Brown, 1 Oli Kebble. Bank: 16 George Turner, 17 Alex Allan, 18 D’Arcy Rae, 19 Matt Fagerson, 20 Chris Fusaro, 21 George Horne, 22 Nick Frisby, 23 Huw Jones.

Skeisregter: Frank Murphy (Ierland).
Assistent-skeidsregters: Andrew Brace (Ierland), Cwengile Jadezweni (Suid-Afrika)
TV-skeidsregter: Shaun Veldsman (Suid-Afrika)

Southern Kings vs Ulster, Nelson Mandela-stadion, Sondag 14:15

By die Kings is daar grootliks nog dieselfde leemtes as verlede jaar, soos veral verdediging en dissipline, en natuurlik steeds ʼn gebrek aan die nodige finansies en daarom speler-diepte, maar verlede week se vertoning teen die Dragons laat ʼn mens moed skep.

Die Kings werk baie, baie hard om met hulle beperkte spelerstal en gebrek aan diepte  te verbeter en kry dit reg ‒ al bly die oorwinnings nog weg.

Dit is dus met afwagting dat jy uitsien na Sondag se wedstryd Sondag in die Nelson Mandelabaai-stadion waar die Kings teen Ulster te staan kom.

Daar is ook die vertoning van die Springbokflank Marcell Coetzee om na uit te sien. Hy is verlede jaar ná vyf minute van die nuwe seisoen teen die einste Cheetahs in Ulster beseer, het die hele seisoen moes uitsit en speel nou weer ná hy in bietjie meer as twee seisoene net vyf keer op die veld was.

Dat hy op Rassie Erasmus se radar is, kan jy sonder veel teenspraak sê.

Sy twee voormalige spanmaats by die Sharks, die stut Wiehan Herbst en nóg ʼn Bok-flank Jean Deysel, sit Sondagmiddag vir Ulster op die bank.

Die Iere het hul laaste sewe wedstryde, insluitende twee die seisoen, gewen. Hulle mik vir die derde opeenvolgende seisoen na drie wenne in hul eerste drie wedstryde en het in die 2017/18-seisoen twee oorwinnings oor die Kings behaal.

Maar in die Isaac Wolfson-stadion het die Kings die tuiswedstryd naelskraap met 36-43 verloor, voordat hulle later met 10-59 groot pak in Ulster gekry het.

Ulster toer nie goed nie, en het die sedert Desember net een wegwedstryd gewen.

Dit is miskien Sondag die Kings se kans.

Spanne ‒

Southern Kings
15 Michael Botha, 14 Yaw Penxe, 13 Harlon Klassen, 12 Berton Klassen, 11 Bjorn Basson, 10 Masixole Banda, 9 Godlen Masimla, 8 Andisa Ntsila, 7 Martinus Burger, 6 Stephan de Wit, 5 John-Charles Astle, 4 Schalk Oelofse, 3 Luvuyo Pupuma, 2 Michael Willemse (kaptein), 1 Schalk Ferreira. Bank: 16 Alandre van Rooyen, 17 Xandre Vos, 18 Justin Forwood, 19 Bobby de Wee, 20 Ruaan Lerm, 21 Rudi van Rooyen, 22 Martin Du Toit, 23 Ntabeni Dukisa.

Ulster
15 Will Addison, 14 Craig Gilroy, 13 Darren Cave, 12 Stuart McCloskey, 11 Henry Speight, 10 Billy Burns, 9 John Cooney, 8 Nick Timoney, 7 Sean Reidy, 6 Marcell Coetzee, 5 Kieran Treadwell, 4 Alan O’Connor, 3 Tom O’Toole, 2 Rob Herring (kaptein), 1 Andy Warwick. Bank: 16 Adam McBurney, 17 Eric O’Sullivan, 18 Wiehahn Herbst, 19 Jean Deysel, 20 Matthew Rea, 21 David Shanahan, 22 Angus Curtis, 23 Angus Kernohan.

Skeidsregter: Lloyd Linton (Skotland).
Assistent-skeidsregter: Ben Whitehouse (Wallis) en SA skeidsregter.
TV-skeidsregter: Johan Greeff (Suid-Afrika).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.