Pro14: Dis dieselfde ou storie by die Cheetahs en Kings

Wat kan ʼn mens sê behalwe dat dit Saterdag dieselfde ou storie by die Cheetahs én die Kings was?

Albei spanne het probeer, maar hulle skiet net eenvoudig tekort in hierdie liga waar die teenstanders boonop nie altyd met hul beste span teen die twee Suid-Afrikaanse spanne uitdraf nie.

Die afronding het (wéér) by die Cheetahs gelol in hul wedstryd sonder veel vonkel teen Connacht wat in die Vrystaat-stadion met 21-17 gewen het..

Dit was wéér swak hanteerwerk, ʼn paar onverstaanbare opsies, en, om blatant te wees, ʼn sterker Connacht-span wat heelwat verswak was, wat die Vrystaters vir hul soveelste amperse wen van die veld sien stap het.

Connacht het in elke opsig beter gevaar, behalwe dat hulle twee strafskoppe meer as die Cheetahs afgestaan het.

En hoewel statistieke nie alles vertel nie, gee die getal duikslae wat die Cheetahs moes maak (132 waarvan 22 mis was teenoor 87 waarvan 20 mis was), ʼn aanduiding van Connacht se oorheersing.

Puntemakers ‒
Cheetahs 17 (10):
Drieë: Malcolm Jaer, Joseph Dweba, Shaun Venter. Doelskop: Tian Schoeman.
Connacht 21 (15):
Drieë: Tom Farrell, Gavin Thornbury. Doelskop: Jack Carty. Strafdoele: Carty, David Horwitz (2).

♦ Die Kings het probeer, maar was só ontwrig dat daar agterlangs nie genoeg aangegaan het nie op ʼn dag waar hul skrumwerk darem heelwat beter was. Hulle het met 19-22 teen Benetton verloor.

Daar kan veral geen verskoning wees dat die haker van Benetton, Hame Faiva, drie keer ná rolmale gaan druk het wat die rustydtelling 17-7 in die besoekers se guns gemaak het nie.

Anders as by die Cheetahs, is die meeste rugby in die Baai deur die tuisspan gespeel wat die bal meer en verder gedra het, met Benetton wat die meeste keerwerk moes doen (146 duikslae teenoor 80, met die Kings wat net ses duikslae gemis het).

Maar met ʼn oorvloed besit, en ondanks stewige verdediging teen jou, mag ʼn span darem nie so in sy eie gebied vasgepen word nie. Drieë druk word mos veel moeiliker van ver af!

Hier teen die einde het die Kings, ná ʼn vrugtelose tydperk op Benetton se doellyn, skielik twee drieë in die 74ste en 82ste minuut gedruk en binne drie punte van Benetton van die veld gestap.

Maar amper bly stamper ‒ en dis nou nege neerlae in tien wedstryde en beslis  nie meer goed genoeg nie, veral nie as jy die meeste besit het en die meeste rugby speel nie.

Puntemakers ‒
Kings (7) 19:
Drieë: Tertius Kruger (2), Luvuyo Pupuma. Doelskoppe: Masixole Banda (2).
Benetton (17) 22: Drieë: Hame Faiva (3), Monty Ioane. Doelskop: Ian McKinley.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.