Pro14-eindstryd: Leinster dra steeds die kroon

Foto: Pro14/Facebook

In Ierland word gesê dat alles klopdisselboom met Ierse rugby sal gaan wanneer Leinster die toon aangee.

Dit is sekerlik hoekom die Ierse afrigter, Andy Farrell, met ʼn geruste hart in die bed kon klim nadat Leinster Saterdagaand in Dublin sy derde opeenvolgende Pro14-titel gewen het nadat hy Ulster met 27 – 5 in die eindstryd verfomfaai het.

Leinster het met dié oorwinning sy onoorwonne vertoningslys tuis tot 23 wedstryde gerek, terwyl Ulster se trofeekas sedert 2003-’04 steeds leeg staan.

Dit was Leinster se 17de agtereenvolgende sege in die Pro14-reeks, wat die span laas in 2001-’02 kon regkry.

Ulster, wat Edinburgh in een van die halfeindstryde verras het, het laas in 2012-’13 in ʼn eindstryd gespeel. Daar was geen toeskouers op die Aviva-stadion nie en ’n gebrek aan grootwedstryd-temperament het die spelers gekortwiek en die senuwees het straks ook gelol.

Ulster was ná 10 minute reeds voor nadat die senter James Hume ʼn puik drie gedruk het, maar dit was die span se swanesang, want hy kon nie weer deur die byna onpriembare verdediging van Leinster dring nie.

Een van sy groot bates, die Springbok-agtsteman Marcell Coetzee, is in sy spore gestuit voordat hy oor die voordeellyn kon kom en Ulster se planne was in die wiele gery.

Boonop het Leinster, wat daaraan gewoond is om op ʼn groot verhoog te speel, die skroewe al hoe stywer gedraai en Ulster doodgewurg.

Die groot vraag is hoe die Suid-Afrikaanse spanne (ons praat nou nie van die Cheetahs en Kings wat reeds ʼn voorsmakie daarvan gehad het nie) in ʼn moontlike Pro14-reeks sou vaar?

Ek glo dit sal beter as in die Superreeks gaan, maar oorsee teen spanne soos Leinster, Munster, Edinburg en die Glasgow Warriors gaan dit nie makliker wees nie, veral nie as die spanne weke lank sonder hul internasionale spelers moet klaarkom nie.

Puntemakers:

Leinster 27 (10): Drieë: James Lowe, Robbie Henshaw, Caelan Doris. Doelskoppe: Ross Byrne (2), Johnny Sexton. Strafdoele: Byrne (2).

Ulster 5 (5): Drie: James Hume.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.