Pro14: foute en kaarte kelder Cheetahs ná goeie begin

Henco Venter-hulle probeer vergeefs vir Louis Ludik van die doellyn af terugtrek. (Foto: Facebook/Ulster Rugby)

Die Cheetahs het Vrydagaand in hulle eerste wedstryd in die Pro14-reeks goed begin en die tuisspan Ulster in veral die eerste kwart goed laat bontstaan, maar te veel ongedwonge foute en twee geelkaarte het hulle duur gekos.

Die Noord-Iere het die wedstryd met 42-19 gewen nadat hulle ná 26 minute ná twee baie goeie drieë nog 14-8 voor was.

Toe het die Iere gaan druk en verdoel, en nog twee van die tuisspan se drieë is toe binne sewe minute gedruk terwyl Henco Venter ná ʼn geelkaart langs die veld gesit het.

Dit het die telling van 15-14 na 27-14 geneem. Daarna was Ulster grootliks in beheer en binne die eerste minuut ná rustyd het Louis Ludik, wat deurgaans met sy krag en aanvoeling beïndruk het, hulle telling na 32-14 gerek.

Uiteindelik was die 24 punte wat die tuisspan in die 15 minute tussen die 26ste en 41ste minuut aangeteken het, deurslaggewend.

♦  Voortgesette aanslane op kritieke oomblikke deur die Cheetahs en beter beheer by die afbreekpunte deur Ulster het ʼn groot invloed op die wedstryd gehad.

Die twee oud-Sharks, Jean Deysel en Marcell Coetzee, was die vernaamste baldraers vir Ulster en het die voordeellyn gereeld oorgesteek en hulle pak op die voorvoet geplaas.

Die skuiwe in die agterlyn ná Rosko Specman se besering in die 15de minuut net nadat hy Clayton Blommetjies se drie aangevoor het, het die Cheetahs se kommunikasie op die verdediging ten kwade beïnvloed, en die ervare agterspelers van die tuisspan het dit deeglik uitgebuit – nie net met drieë nie, maar ook om groot ente veld te wen.

Specman is deur Cecil Afrika vervang.

Nadat Afrika pragtig gebreek en Sergeal Pieterse in die 49ste minuut gaan afrond het (32-19), was daar weer hoop vir die Vrystaters met feitlik onmiddellik nog ʼn geleentheid om te gaan druk. Ryno Benjamin het egter aangeslaan, en Ulster was weer op pad doellyn toe – dié keer darem net vir ʼn strafdoel.

Op 35-19 was die berg vir die Cheetahs baie steil en dit sou nog meer so word met Peter Nelson wat ná 75 minute gaan druk en self verdoel het.

Deysel, in sy eerste ligawedstryd vir Ulster, is as speler van die wedstryd aangewys.

♦  ʼn Waarskuwing: die Cheetahs en die Southern Kings sal moet lig loop vir die skeidsregters se reëltoepassings vir ongeoorloofde spel.

Die Cheetahs het een rolmaal laat val, en Henco Venter het (sonder ʼn waarskuwing) ʼn geelkaart gekry. In die tweede helfte het die stut Aranos Coetzee ʼn gele gekry toe hy ʼn teenstander van agter aan die kraag gegryp het. Dit was nie ʼn gevaarlike vat nie, maar ʼn hoogvat beteken klaarblyklik ʼn geelkaart.

Verder kan daar nie veel oor die skeidsregter Andrew Brace gekla word nie.

Puntemakers –

Ulster (27) 42: Drieë: Tommy Bowe, Alan O’Connor, Stuart McCloskey, Charles, Piutau, Louis Ludik, Peter Nelson. Doelskoppe: John Cooney 2, Nelson. Strafdoele: Cooney 2
Cheetahs (14) 19: Drieë: Clayton Blommetjies, Makazole Mapimpi, Sergeal Pietersen. 2. Doelskoppe: William Small-Smith 2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie ·

Moet erken na my mening was die geelkaart vir die “hoogvat” verregaande.

Lol ·

Welgedaan Cheetahs. Onder moeilke omstandighede: kort voorbereiding, min diepte, klein begroting en SARU sorge was dit ‘n goeie vertoning.

danie ·

Watse kort voorbereiding? Hulle het dan die hele superrugby seisoen saamgespeel en was besig met die CB. Ek glo hulle sal effe beter vaar in die kompetisie maar nie veel beter nie.

Frans C ·

Ja veral as jy hul laai met spelers uit die buiteland,weet nie of dit nou eintlik Ierland se rugby
bevorder nie.

danie ·

Dieselfde probleem as in superrugby, kan nie verdedig nie. Ek het nie geweet Marcelle Coetzee is reg en speel nie, gedink hy is nog beseer.

Lol ·

Danie jou opmerking is presies die rede waarom SA spanne meestal sukkel. Die dae van net opdaag, speel en hoop vir die beste is lankal verby. Miskien is/was jy goed genoeg om dit te doen en ek hoop jy is betrokke by SA rugby want dan sal ons nooit verloor nie. Die Cheetahs het 4 weke terug nie eens geweet of hulle in die PRO14 gaan meeding nie. Die wedstrydbepalings is eers op 8 Augustus aangekondig. Inderhaas moes speler en afrigter kontrakte aangepas word. Spelers en afrigters moes geskommel word om Curriebeker verpligtinge ook na te kom. Tydens Super 14 was meeste spelers onseker oor hul toekoms en het gehoop op kontrakte elders. Terloops die Kings is nog erger geaffekteer want hulle het intussen magdom spelers verloor weens die onsekerheid. En jy is tevrede met die voorbereiding?

danie ·

Hulle speel dan sedert Februarie met basies dieselfde groep spelers. Hoeveel langer dink jy moet hulle nog saamspeel om ‘n wenspan te word. Hulle is tans net nie goed genoeg nie dis eenvoudig soos dit. Hopelik sal hul finansies so verbeter dat hulle ook uitstaande spelers kan aankoop want dis ongelukkig nodig om op daai vlak te presteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.