Pro14: Groot pak vir Cheetahs ná hul rustyd-voorsprong

Benhard Janse van Rensburg keer Glasgow se Adam Hastings voor. (Foto: Twitter via @PRO14Official)

Die vernaamste waarneming uit die Cheetahs se eerste tuis-Pro14-wedstryd Saterdagaand is dat hulle nog baie ver daarvan is om ʼn faktor in die liga te wees, maar dat hulle tóg ʼn hele paar spanne vorentoe gaan skrikmaak.

Daar was ʼn gewisse treetjie vorentoe ná hul vorige twee groot loesings. Hulle het die wedstryd in die Vrystaatstadion met 24-52 verloor en sewe drieë afgestaan, vyf daarvan ná rustyd, en self vier keer gaan druk om darem hul eerste bonuspunt van die reeks tot dusver te verdien.

Verdediging en goeie besit bly hul grootste kopseer, en die 28 punte waarmee hulle verloor het, is hul kleinste neerlaag nóg. Die Cheetahs het nou in hul drie wedstryde 38 punte aangeteken en 136 afgestaan.

Die Cheetahs het veral in die eerste helfte redelike besit gekry en dit met drie volspoed-drieë en goeie visie uitgebuit om rustyd verrassend met 19-14 voor te loop nadat hulle ná net 70 sekondes ʼn eerste drie teen hulle deurgelaat het.

Die Vrystaters het voor rustyd die gaping agter die besoekers met goedgeplaaste skoppe suksesvol gebruik en dit het op twee van hul drieë voor rustyd uitgeloop.

Hulle het, weliswaar nie strykdeur nie, redelik goed geskrum, en die besoekers aanvanklik met stewige verdediging in toom gehou.

Bygesê, Glasgow het in groot mate tot hul eie gesukkel in die eerste helfte bygedra met swak oordeel waar spelers aan die buitekant te dikwels geïgnoreer is. Swak balbeheer en gevolglike omkeerbesit het hulle voor rustyd gekos.

Daar is vir die Cheetahs-hoofafrigter, Franco Smith, nog heelwat werk wat voorlê, maar daar is ook die wete dat dit ʼn nuwe klomp spelers is wat met elke wedstryd verbeter het en dat dit tyd sal neem om by die hoër vlak en tempo aan te pas.

Puntemakers ‒

Cheetahs (19) 24: Drieë: William Small-Smith, Malcolm Jaer (2), Nico Lee. Doelskoppe: Benhard Janse van Rensburg, Tian Schoeman.
Glasgow (14) 52: Drieë: Adam Hastings, Ali Price (2), Tommy Seymour, DTH van der Merwe, Callum Gibbins, George Horne. Doelskoppe: Hastings (7). Strafdoel: Hastings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

wolla ·

As die Cheetahs en Kings so aangaan, kan hulle ook uit daai kompetisie geskop word omdat hulle nie mededingend genoeg is nie. Waarnatoe dan?

Johan ·

Mooi so bokke en ook mooi so bulle julle kan as julle wil lekker speel en wen weer aseblief

Herman Goosen ·

Vrystaat rugby is in ‘n krisis. Twee swak spanne ding mee in die Currie beker sowel as die Pro 14. Dit is duidelik dat hulle geen poging aanwend om hulle swak verdediging wat hulle al jare lank mee sukkel uit te sorter nie. Dit is maar net die gewone onprofessionele ploeter voort en miskien eendag wen ons per ongeluk ‘n wedstryd.

Franco Smith is NIE DIE REGTE AFRIGTER vir die Cheetahs nie. Wat hulle nodig het is ‘n oorsese afrigter wat geen van die tradisionele vorms van spel verwagtinge van die Cheetahs in ag sal neem nie. Hulle het ‘n totale kopskuif nodig

Frans C ·

Regtig? Is daar rerig mense in Suid Afrika wat verwag dat ‘n span wat nie goed genoeg
was vir Superrugby en summier uitgeskop is ,twee spanne in die veld moet plaas om in
‘n plaaslike en oorseese kompetisie mee te ding.
As jy dit glo moet jy dadelik ‘n sielkundige gaan sien want jy sien gesigte en droom verlore drome.Wanneer gaan Suid Afrika se rugbypubliek en kommentators uit hul
provinsiale drome wakker word.
Beroepsrugby in Suid Afrika is besig om ‘n stille dood te sterf agv van die steeds verswakkende Rand en politieke sienswyses en inmenging.As jy ‘n span van oorseese
RSA spelers kan kies wat die Bokke kan klop,dan moet jy weet die skrif is aan die muur.

Al wat ons nou gaan red is minder kwantiteit en meer kwaliteit en minder Provinsialisme. Die tyd is ryp vir ‘n totale herstrukturering van ons Super rubyspanne.
Die spanne kan nie langer om provinsiale strukture gebou word nie.

Dit is tyd dat kragte saamgesnoer word en bymekaar bring wat bymekaar hoort.

nico k ·

Nee Frans C, provinsialisme is wat die pawiljoene volhou. Wil jy nou ‘n SA A, B en C span kies om in die superreeks mee te ding. Wie gaan na die B en C span kyk. Die Cheetahs se ongelukkige dag was dat hul uit die Superreeks uit is. Dit moes noodwendig volg dat hulle hul borge sou verloor en daarmee saam al hul spelers. Die Pro 14 was ‘n grashlam waaraan hulle gegryp het, maar dit is duidelik dit gryp nie die kykerspubliek se aandag en daarom ook nie die borge se aandag. Hulle het reeds die meeste van hul spelers van laas jaar verloor en dit gaan so aangaan en ek as groot Cheetah ondersteuner het nie meer ‘n span om voor te skree nie. Die Cheetas was darem vir dekades kompeterend in SA rugby ten spyte van ‘n begroting wat nie die helfte van die ander groot unies sin was nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.