Pro14: Is dit dalk die Bulls vs Benetton?

Die Bulls se Stedman Gans tydens ‘n wedstryd teen die Stormers in 2020. (Foto: Christiaan Kotze / AFP)

Dit was ʼn wonderlike voorstel om vanjaar se Reënboogbeker-rugbyreeks op 19 Junie op ʼn hoogtepunt af te sluit met ʼn kragmeting tussen die kampioenspanne van Noord en Suid.

Dit sal iewers in Europa plaasvind, maar daar wag ʼn taai tameletjie op die organiseerders van Pro14-rugby, want die kar is dalk voor die perde gespan.

Soos sake tans staan, lyk die Bulls byna onstuitbaar om as Suid-Afrika se Reënboogwenner (Suid) gekroon te word, al is daar nog ʼn paar derbies wat tussen die vier spanne afgehandel moet word.

Die groot kopseer is egter in Europa (Noord), waar 12 spanne van Ierland, Skotland, Wallis en Italië sake uitspook.

Benetton (14 punte) is gerieflik voor ná twee seges oor Zebre en ʼn skokoorwinning oor die Glasgow Warriors. Hulle word gevolg deur Munster en Glasgow (albei 10 punte) en die Cardiff Blues, Leinster en Connacht (al drie nege punte).

Anders as in Suid-Afrika, gaan die 12 spanne nie almal teen mekaar (en weer teen mekaar) speel nie en dis waar Benetton baie maklik by die agterdeur as Europa se Reënboogwenner kan inglip.

Die Bulls se Morné Steyn tydens ‘n wedstryd Saterdag. (Foto: GB Jordaan).

Maar hoe kan Benetton Europa se beste span wees, nadat hulle vroeër vanjaar nie ’n wedstryd in die Pro14-reeks kon wen nie?

Benetton, wat Zebre Saterdag met 34 – 27 geklop het, moet nog tuis teen Connacht en weg teen die Scarlets speel. Dit kan maklik gebeur dat Benetton albei wedstryde wen of dalk genoeg bonuspunte verower om hul neuse voor te hou.

Munster is juis Vrydagaand met 24 – 20 deur Connacht geklop en Leinster, wat Ulster Vrydagaand met 21– 17 verslaan het, het reeds teen Munster verloor.

Die Glasgow Warriors, wat Edinburgh Saterdagaand met 31 – 24 geklop het, staan ook sterk in die wedloop, asook die Cardiff Blues, wat die Scarlets met 29 – 28 geklop het.

Toe die Pro14-organiseerders verlede week hul planne vir die eindstryd bekend gemaak het, het hulle sekerlik nooit kon voorsien dat Benetton dalk teen die Bulls kan speel nie.

De gunstelingspanne was sekerlik Munster, Leinster, Glasgow of die Cardiff Blues, maar die Covid-19-pandemie het sake deurmekaar gekrap.

Die volgende vraag is: Indien die Bulls bo in Suid-Afrika eindig, gaan die Springbokke wat in Julie teen die Britse en Ierse Leeus moet speel, vrygestel word om na Europa te reis?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.