Pro14: Kan Cheetahs hul eerste oorwinning behaal?

Edinburgh het wel sedert 6 April vanjaar nog nie tuis verloor nie, maar die Cheetahs kry Vrydagaand (20:35) op Murrayfield die geleentheid om ʼn span te takel wat in die nuwe 2018/19-seisoen drie van hul vyf wedstryde verloor het.

Die slegte nuus vir die Cheetahs is dat die Skotte se twee oorwinnings albei tuis was. Een daarvan was verlede naweek teen Benetton teen wie hulle met ʼn enkele punt, met 31-30, gewen het.

Benetton het vier doelskoppe verbrou, terwyl Edinburgh se losskakel Simon Hickley al vier sy span se drieë verdoel en met ʼn strafdoel geslaag het.

Beteken dit dalk dat die Cheetahs kan wen, ondanks die naelskraapse neerlaag verlede naweek teen die Cardiff Blues?

Dis moeilik om te sê, want voorspel kan ʼn mens nie met Suid-Afrika se twee verteenwoordigers in die Pro14-liga nie. Hulle, én die Southern Kings, toon letterlik in elke wedstryd belofte, selfs teen die sterkste teenstanders.

Hulle is albei onderaan hul twee onderskeie afdelings en het albei ook die grootste negatiewe punteverskille in die reeks: die Cheetahs -101 en die Kings -72.

Tot dusver het die Cheetahs een keer gelykop gespeel en vier keer verloor.

Om een of ander rede kan hulle, soos die Kings, egter nie deurdruk en wedstryde beklink waar hulle goed genoeg speel om te wen nie.

Die Cheetahs het verlede jaar tuis met 33-13 teen Edinburg gewen, maar het vanjaar inderwaarheid ʼn splinternuwe span.

Die afrigter Franco Smith het sy agterlyn, op een uitsondering na, dieselfde as verlede week teen die Blues gehou, met Louis Fouche wat op heelagter die enigste verandering is.

Voorlangs het hy taamlik verander aan die span wat verlede naweek teen die Blues verloor het en wat met rukke uitstekende gespeel het net om daarna weer vir ruk ʼn insinking te toon.

Spanne ‒

Edinburgh
15 Blair Kinghorn, 14 Darcy Graham, 13 James Johnstone, 12 Juan Pablo Socino, 11 Duhan van der Merwe, 10 Simon Hickey, 9 Henry Pyrgos, 8 Bill Mata, 7 Hamish Watson, 6 Magnus Bradbury, 5 Grant Gilchrist, 4 Ben Toolis, 3 Willem Nel, 2 Stuart McInally (kaptein), 1 Rory Sutherland. Bank: 16 Ross Ford, 17 Murray McCallum, 18 Simon Berghan, 19 Luke Hamilton, 20 Jamie Ritchie, 21 Sean Kennedy, 22 Jaco van der Walt, 23 Chris Dean.

Cheetahs
15 Louis Fouche, 14 William Small Smith, 13 Benhard van Rensburg, 12 Nico Lee, 11 Rabz Maxwane, 10 Tian Schoeman, 9 Tian Meyer (kaptein), 8 Stephan Malan, 7 Junior Pokomela, 6 Neil Jordaan, 5 Jean-Pierre du Preez, 4 Justin Basson, 3 Johannes Coetzee, 2 Jacques du Toit, 1 Ox Nche. Bank: 16 Joseph Dweba, 17 Charles Marais, 18 Günther Janse van Vuuren, 19 Walt Steenkamp, 20 Daniel Maartens, 21 Abongile Nonkontwana, 22 Shaun Venter, 23 Ali Mgijima.

Afskop: 20:35
Skeidsregter:
 Marius Mitrea (Italië).
Assistent-skeidsregters: Manuel Bottino (Italië), Ian Kenny (Skotland).
TV-skeidsregter: Andrew McMenemy (Skotland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.