Pro14 kan Saru-base mos nie gerus laat slaap

Die Suid-Afrikaanse rugbybase kan mos nie gerus slaap as ʼn mens hul Pro14-avontuur op die keper beskou nie.

Altans, sówil dit lyk as ʼn mens mooi na die prentjie kyk noudat die Cheetahs en die Kings hul eerste seisoen in dié reeks voltooi het.

Kom ons stel drie maatstawwe, wat hopelik die SA Rugbyunie (Saru) se prioriteit in die bedryf en uitbouing van Suid-Afrikaanse rugby behoort te wees: die Springbokspan moet die beste ter wêreld wees; die huishoudelike spelerspoel moet gesag afdwing en ʼn uiters mededingende rugbyomgewing skep; Saru-ondernemings moet ʼn gesonde bydrae tot sy (en plaaslike rugby in die algemeen se) geldsake lewer.

Hoe het dinge op die Pro14-speelveld verloop?

Die Cheetahs was derde in hul afdeling deur 12 van hul 21 wedstryde te wen. In die kwarteindronde het die Walliese streekspan Scarlets, die verdedigende kampioen, die Vrystaters met 43-8 afgeransel, hul grootste nederlaag in die reeks.

Die Kings kon slegs een uit 21 wedstryde wen.

Die Cheetahs was mededingend, ja. Die Kings? Nee.

Watter baat het Suid-Afrikaanse rugby by dié deelname gevind?

Om die geheue te verfris: Die Cheetahs en die Kings is uit Superrugby gesit omdat Suid-Afrika eenvoudig nie die spelersdiepte vir ses spanne in dié reeks gehad het nie.

Deur al ses te laat voortleef, het die SA Rugbyraad niks aan dié siekte probeer doen nie. Om die waarheid te sê, dit is eenvoudig geïgnoreer.

Pleks daarvan om die kwaal te probeer genees deur die oorblywende Suid-Afrikaanse franchise’e, uit die Cheetahs en Kings te probeer versterk, het Saru die Europese Pro14-reeks halsoorkop met hulle binnegestorm.

In teenstelling hiermee het die Australiese Rugbyunie (ARU) in die hof gaan draai, maar die Western Force is ontbind, en sy topspelers is deur die oorblywende Aussie-franchise’e opgeraap.

Laat die statistiek dan lieg soos hy wil, maar die Suid-Afrikaanse Superrugbyspanne het verlede jaar 73% van hul kragmetings teen Australiese spanne gewen; tot dusver vanjaar is die wensyfer slegs 50%.

Kan dit beteken dat nóg Suid-Afrikaanse spanne vorentoe in die slag sal bly namate Sanzaar die reeks se mededingendheid probeer opskerp?

In watter mate het die Pro14-skuif die spelers vir Suid-Afrikaanse rugby behou?

Die Cheetahs se webwerf lys 12 spelers wat ander weivelde gaan soek: Rynier Bernardo (onbevestig), Clayton Blommetjies (Scarlets, Wallis), Tom Botha (Ospreys, Wallis), Uzair Cassiem (Scarlets, Wallis), Reniel Hugo (Toyota Verblitz, Japan), Niel Marais (Yamaha Jubilo, Japan), Paul Schoeman (onbevestig), Clinton Swart (Toyota Verblitz, Japan), Torsten van Jaarsveld (Bayonne, Frankryk), Francois Venter (Worcester Warriors, Engeland), Carl Wegner (Toyota Verblitz, Japan), Fred Zeilinga (Canon Eagles, Japan).

Drie van hulle is deur ander Pro14-spanne raakgesien en opgeraap. Nóg drie is op pad na Jake White se Toyota Verblitz in Japan, en ʼn ander na Allister Coetzee se Canon Eagles toe.

Hoeveel spelers is vir die Springbokspan geslyp? Hoeveel Cheetahs het Rassie Erasmus na sy inskakelingskampe genooi?

Presies één. Die stut Ox Niche.

Dit was logisties onmoontlik om meer te nooi, het Saru in ʼn verklaring gesê. Die Cheetahs se oefen-, reis- en speelprogram het dit eenvoudig nie moontlik gemaak nie.

Is daar enige rede waarom dit vorentoe sal verander?

Selfs Saru en Rassie, laasgenoemde gebore en getoë op Despatch in die Oos-Kaap, ag dit onnodig om te verduidelik waarom geen Kings-spelers genooi is nie.

Het Saru geld uit die Pro14-stap verdien?

Nee. Luidens sy jongste jaarverslag het dit, hoewel hy bykomende finansiering bekom het, hom steeds bykans R37 miljoen uit die sak gejaag om die twee spanne se deelname moontlik te maak.

Met die gebrekkige inligting wat beskikbaar is, is dit moeilik om uit te pluis presies hoe die geldsake werk.

Die BBC het vroeër berig “die Suid-Afrikaners” sal jaarliks sowat £6 miljoen (oor die R100 miljoen) tot die Pro14-skatkis bydra, “grootliks deur hul binnelandse TV-regte”.

Dis onduidelik of Saru of Supersport die betaalwerk doen, maar dis Saru wat die ooreenkoms gesluit het.

Bogenoemde R100 miljoen uit Suid-Afrika word blykbaar tussen die 14 spanne verdeel – waarvan net twee Suid-Afrikaans is – en het glo die spanne se inkomste uit TV verdubbel.

Dit lyk darem baie na ʼn geval waar Suid-Afrikaanse rugby sy eie ondergang finansier.

Is daar geen doeltreffender manier om dié bedrag geld tot die uitbouing van Suid-Afrikaanse rugby, veral Springbokrugby, te bestee nie?

Dis g’n wonder nie dat van die kleiner bonde Saru hof toe sleep nadat hul geldelike toekennings in die Saru-begroting drasties verminder is.

Is daar dalk ʼn verband tussen hierdie besnoeiings en die geld wat nou glo uit Suid-Afrika via die Pro14-reeks na Ierse provinsiale spanne, Italiaanse klubs, Skotse superklubs en Walliese streekspanne vloei?

Die rugbybase kan redeneer en toutjies trek dat hulle blou word, hoegenaamd niks het nog aan die lig gekom wat die vertroue wek dat Pro14-deelname ʼn sakebesluit in belang van die breër SA prentjie was nie.

Wat ʼn mens voorts skuins laat opkyk, is berigte dat Saru hom – met geldlas en al – verbind het dat dié twee spanne vir ses jaar in die Pro14-reeks sal speel, sonder dat hy al ʼn belang in die beherende maatskappy het.

Die reeks behoort aan Celtic Rugby Ltd., ʼn private maatskappy wat net drie aandeelhouers het: die Ierse, Skotse en Walliese Rugbyunies.

Daar het tot dusver op die oog af dadels gekom van ʼn nuwe maatskappy wat Saru insluit. Hoekom soveel van jou eiers in ʼn ander se mandjie plaas?

Is dit nie uit ʼn sake-oogpunt uiters gewaag, selfs skreiend onverantwoordelik, om Suid-Afrikaanse rugby oënskynlik onbekook vir ses jaar op dié wyse bloot te stel nie?

Dit bied ʼn skrale troos dat dit lyk of Saru se franchise-belofte aan Griekwas en die Pumas voorlopig van die baan is met die uitvaart van die Anglo-Walliese Bekerreeks wat in sy visier was.

Dan sê Harold Verster, die uitvoerende hoof van die Cheetahs, glo daar is ʼn toekoms vir Suid-Afrikaanse rugby in die noordelike halfrond.

Dit klink veral of hy sy oog op die geldpotte van die Europese klubreekse, bedryf deur European Professional Club Rugby (EPCR), het.

Mag ʼn mens vra watter soort toekoms hy dáár sien?

Hoe gaan dit die Springbokspan versterk? Hoe gaan dit die aansien van die Curriebekerreeks red? Hoeveel gaan Suid-Afrikaanse rugby in die breë finansieel daarby baat vind?

Stippel dίt vir die Suid-Afrikaanse rugbypubliek uit, dan glo hulle die stelling dalk.

Terloops, daar is onlangs berig dat ʼn Chinese sakegroep met TV-belange sowat R1,2 miljard oor drie jaar gaan bestee om rugby in China te ontwikkel.

As ʼn rugbykrag is dié magtige land onbeduidend, maar hy het glo, skouer aan skouer met Amerika, die meeste rugbyondersteuners ter wêreld – 30 miljoen van hulle.

Het Saru dalk al by die Chinese probeer verneem wat hulle bereid sou wees om vir die kykregte van ʼn Curriebekerreeks van topgehalte te betaal?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

B-man ·

Nee, ons gaan seker swakker gehalte Chinese rugby op SABC moet kyk.

Frans C ·

‘n Swak ekonomie en vallende wisselkoers het ook sy uitwerking op beroepssport.Soos die Rand en ekonomie verswak en rugbybase steeds voortploeter om politieke base tevrede te stel sal ‘n sport soos rugby met ‘n betreklik kort leeftyd vir spelers,steeds nie die stroom spelers na die buiteland kan keer nie.

Dit inagenome maak dit nog meer ‘n hartseer storie dat ‘n man soos Ackermann nie omgee om sy voormalige span leeg te melk nie ten einde ‘n naam oorsee te maak nie.

As die trant voortgaan gaan Suid Afrika alhoemeer moet staatmaak op spelers in die buiteland ten einde elke 4 jaar darem ‘n Springbokspan in die veld te stoot wat nie hul naam krater in wêreldbekerkompetisies maak nie.

Veritas ·

Om watter rede sou Ackerman enigsins omgee vir Springbokrugby? Die gemors waarin ons rugby gedompel is, is beslis nie sý skuld nie. Dié aanklag moet voor die deur van die rassistiese ANC-regering gelê word. Rugby in SA is in sy sterwensuur en dit is presies wat die regering wou hê. Die Afrikaner se taal en gunsteling sport is gereduseer tot niks en dit was die gom wat die Afrikanervolk aanmekaar gehou het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.