Pro14: Kings laat Cheetahs sweet vir die bonuspunt

Die Cheetahs se plek in die kwarteindronde van die Pro14-reeks is Saterdag in die 52ste minuut bespreek toe hulle kaptein, Francois Venter, in die Nelson Mandelabaai-stadion teen die Kings gaan druk het.

Dit was hulle vierde drie en die Cheetahs het die bonuspunt gekry wat aan hulle ʼn plek in die uitspeelronde besorg het. Dat hulle met 29-20 gewen het, het aan die Cheetahs vyf punte besorg en hulle het nege punte voor die Cardiff Blues in vierde plek geëindig.

Die Blues het met 23-26 teen die Ospreys verloor en dus nie hoegenaamd gedreig om die Cheetahs uit derde plek te stamp nie.

Venter-hulle, wat derde in afdeling A was, sal nou Vrydag teen verlede jaar se verdedigende kampioen, die Scarlets, in Llanelli in die kwarteind speel.

Die tweede en derde spanne van die twee afdelings speel oorkruis teen mekaar in  die kwarteind, met die wenners wat daarna teen die eerste geplaaste spanne in die twee afdeling in die halfeind speel.

In die ander kwarteind speel Johann van Graan se Munster tuis teen Edinburgh.

♦  In die Baai het die gelapte Kings nie, soos so dikwels vroeër in die seisoen, sommer boedel oorgegee nie. Ná ʼn halfuur was hulle 13-10 voor en net ná rustyd was hulle slegs 20-22 agter.

Dit was eers in die 52ste minuut dat die Cheetahs hulle voorsprong kon vergroot na 29-20, wat ook die eindtelling was.

Puntemakers –

Cheetahs (22) 29: Drieë: Tier Schoeman, Niel Marais, Uzair Cassiem, Francois Venter. Doelskoppe: Marais (3). Strafskop: Marais (1).
Kings (13) 20: Drieë: Ntabeni Dukisa, Harlon Klaasen. Doelskoppe: Masixole Banda (2). Strafskoppe: Banda (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.