Pro14: Kings maak soos die Bokke met hul min besit

Kings-vreugde . (Foto PRO14official)

Die Southern Kings het, soos die Springbokke verlede week in die verrassende oorwinning teen die All Blacks, hulle Saterdag teen die Glasgow Warriors nie veel aan besit en gebiedsvoordeel gesteur nie.

Hulle het, net soos die Cheetahs Vrydagaand teen die onoorwonne Ulster in hulle gelykopstryd, vroeg die voortou geneem en toe vasberade vasgebyt op die veld van die Nelson Mandela-universiteit vir hul eerste oorwinning in die seisoen se Pro14-reeks.

Dit was slegs hul tweede oorwinning nóg in die reeks toe hulle die Glasgow Warriors met 38-28 geklop het op ’n naweek waar die twee onoorwone spanne in die reeks hulle teen vasberade Suid-Afrikaners vasgeloop het.

Die oorwinning is veral gebou op die Kings se gebruik van hulle geleenthede en skaflike verdediging toe dit werklik getel het, want in die geheel was die Kings se 19 verbroude duikslae goed, maar nie heeltemal bevredigend nie, met feitlik 20% teenstanders wat weggekom het.

Die Kings het die bal minder as die Warriors gedra (52-105), minder uitgeë gegee (92-180) en het meer suksesvolle duikslae (142-72) moes uitvoer. Hulle het ook weer met dissipline gesukkel deur 13 strafskoppe teenoor vyf af te staan.

Trouens, hul oorwinning is behaal ondanks drie geelkaarte wat teen hulle uitgedeel is. Saterdag het dit nie saakgemaak nie, maar vorentoe sal hulle hieroor nog opdraand kry.

Met die rustydtelling van 28-0 in die tuisspan se guns was die slag waarskynlik al gelewer, maar die besoekers het in die tweede helfte goed, dog te min, teruggeveg. Die Kings het vyf drieë teen vier gedruk.

Voorlangs het die Kings se kaptein, Michael Willemse, deurgaans gewoel en die voorbeeld gestel en hy is as speler van die wedstryd aangewys.

♦  Aanstaande naweek speel die Kings in Wallis teen die Scarlets en die week daarna in Italië teen Benetton.

Puntemakers –

Southern Kings (24) 38: Drieë: Yaw Penxe, Martin du Toit (2), Poerie van Rooyen, Harlon Klaasen. Doelskoppe: Masixole Banda (5). Strafdoel: Banda (1).
Glasgow Warriors (0) 28: Drieë: Nick Grigg, DTH van der Merwe (2), Fraser Brown. Doelskoppe: Pete Horne (1), Adam Hastings (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.