Pro14: Kings se koppe en dissipline moet reg wees

Die Springbok Uzair Cassiem is een van vier Suid-Afrikaners in die Scarlets se span. (Foto: Twitter)

Rugbywedstryde word nie deur vorige uitslae beïnvloed nie, maar dit is wel waar dat dit in die eerste plek ʼn aanduiding van die twee teenstanders se krag gee en in die agterkop ook ʼn rol speel.

En dít is waar die Kings kan vasval vir Vrydagaand se wedstryd teen die Scarlets in Port Elizabeth.

Hulle besef hulle het tot dusver in die Pro14-reeks net een uit sewe wedstryde teen Walliese teenstand gewen; dat die Scarlets nog net een van hul laaste vyf wedstryde in die seisoen se reeks verloor het; en dat Scarlets teen die Kings en die Cheetahs in die reeks net een uit vyf verloor het.

Dit was teen die Cheetahs in Desember in Bloemfontein.

Die Kings en die Scarlets het al vroeër dié seisoen teen mekaar gespeel, met die Walliesers wat tuis met 54-14 in die Parc y Scarlets-stadion gewen het.

Wat die Kings moet probeer onthou, is dat hul laaste wedstryd in die Madibaz-stadion ʼn oorwinning van 38-28 oor die Glasgow Warriors was. Die Warriors het met ‘n ietwat verswakte span gewaag, en die Scarlets sal ook nie op vol sterkte wees nie.

Dáárin had hulle geen keuse nie, want hul Walliese toetsspelers sit tuis en speel oor ʼn week teen Skotland.

♦ Daar is, soos by feitlik alle oorsese teenstanders, ook Suid-Afrikaners in die Scarlets se span. Clayton Blommetjies, die twee Sporingbokke Uzair Cassiem en Werner Kruger, en Dave Bulbring sal teen die Kings uitdraf.

♦ Die Kings se afrigter, Deon Davids, moes al ʼn keer of wat sy hande in die lug gegooi het oor die gebrek aan dissipline by sy span, maar sal hoop dat dit Vrydagaand beter gaan. Hy het twee manne wat in toetse geblaas het, Mark Lawrence en Stuart Berry, nadergetrek om die toepassing van die reëls aan die spelers te verduidelik.

Die vraag is hoe dit in die wedstryd toegepas sal word.

Spanne ‒

Southern Kings
15 Masixole Banda, 14 Yaw Penxe, 13 Harlon Klaasen, 12 Berton Klaasen, 11 Bjorn Basson, 10 Martin du Toit, 9 Godlen Masimla, 8 Andisa Ntsila, 7 Ruaan Lerm, 6 Stephan de Wit, 5 John-Charles Astle (kaptein), 4 Schalk Oelofse , 3 Luvuyo Pupuma, 2 Alandre van Rooyen, 1 Schalk Ferreira. Bank: 16 Tango Balekile, 17 Justin Forwood, 18 Luphumlo Mguca, 19 Stephan Greeff, 20 Martinus Burger, 21 Rudi van Rooyen, 22 Tertius Kruger, 23 Meli Rokoua.

Scarlets
15 Clayton Blommetjies, 14 Johnny McNicholl, 13 Paul Asquith, 12 Steff Hughes (kaptein), 11 Ioan Nicholas, 10 Dan Jones, 9 Sam Hidalgo-Clyne, 8 Uzair Cassiem, 7 Josh Macleod, , 6 Will Boyde, 5 David Bulbring, 4 Steve Cummins, 3 Werner Kruger, 2 Marc Jones, 1 Phil Price. Bank: 16 Dafydd Hughes, 17 Dylan Evans, 18 Simon Gardiner, 19 Tom Price, 20 Josh Helps, 21 Kieran Hardy, 22 Morgan Williams, 23 Ed Kennedy.

Afskop: 19:00
Skeidsregter:
 John Lacey (Ierland).
Assistentskeidsregters: Stuart Berry (Suid-Afrika), Paul Mente (Suid-Afrika).
TV-skeidsregter: Sean Veldsman (Suid-Afrika).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.