Pro14: Marcell beste speler op die veld

Ulster se voormalige Wallabies-vleuel Henry Speight op die aanval teen die Kings. (Twitter @Pro14Official)

Benewens die Kings se vertoning was die aandag Sondagmiddag in die Nelson Mandelabaai-stadion op die vertoning van Ulster se Springbokflank, Marcell Coetzee, toegespits.

Ná net vyf wedstryde in twee volle seisoene weens beserings het Coetzee het nie teleurgestel nie. Hy is verdiend as speler van die wedstryd aangewys met ʼn veelsydige vertoning van balle omkeer, as baldraer, op die verdediging waar hy van die meeste duikslae uitgevoer het en met sy aansluiting. Hy het boonop een van Ulster se drie drieë geruk.

Die Kings het alles gegee, en ná 60 minute was hulle enkele drie steeds die enigste op die telbord en die telling 7-9 voordat hulle met 7-28 verloor het. Ulster het al drie hul drieë, een daarvan ná die eindtoeter, in die laaste 20 minujte gedruk.

Ulster se gebiedsvoordeel (sowat 65%) en besit (70%) het groot druk op die Kings geplaas en vereistes aan die Kings se verdediging gestel. Hulle moes 209 duikslae uitvoer teenoor die Noord-Iere se 98, en het dit redelik effektief met 86% sukses gedoen.

Op die aanval was die skakeling tussen voor- en agterspelers nog nie waffers nie, en die ou-ou probleem van dissipline, veral rondom die afbreekpunte, het die Kings swaar getref. Om 21 strafskoppe af te staan, is net eenvoudig nie aanvaarbaar nie.

Die Kings lyk nietemin meer georganiseerd as verlede jaar, met skaafwerk aan veral dissipline wat hulle uitslae vorentoe net goed kan doen.

Puntemakers ‒

Kings (0) 7: Drieë: Michael Willemse. Doelskop: Masixole Banda.
Ulster (9) 28: Drieë: Marcell Coetzee, Angus Kernohan, Angus Curtis. Doelskoppe: Billy Burns, Will Addison. Strafdoele: John Cooney (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Snuffels ·

Wereld beker droom loosies…. Vermeulen, Du Preez en Coetzee.

wolla ·

Jy kan nie beide Du Preez en Coetzee inspan nie. Hopeloos te stadig. Du Preez/Coetzee, Kolisi en Vermeulen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.