Pro14-reeks: Groot eise aan SA spanne gestel

Munster het sy kragmeting met 30-27 teen die Walliese Scarlets gewen. (Foto: Munster Rugby/Twitter)

Die vier Suid-Afrikaanse franchises wat van aanstaande jaar af in die Pro14-rugbyreeks gaan speel, kan hulle maar vet smeer vir toestande waaraan hulle nie gewoond nie.

Ja, die Sharks, Lions, Bulls en Stormers het in die Superreeks ook soms in reën, koue en wind gespeel, maar die Europese toestande is heeltemal anders en ʼn kopskuif gaan nodig wees om aan te pas­.

Waar die klem in die Superreeks (veral in Nieu-Seeland) op aanvallende spel geval het en die bal wyd gerek is, volg die Ierse, Skotse en Walliese spanne heel ander taktiek. Groter klem word gelê op skrumwerk en om besit te verkry of stadig by die afbreekpunte te maak, terwyl verdediging ’n baie groot rol speel.

As voorbeeld: Munster het Saterdag sy kragmeting met 30-27 teen die Walliese Scarlets gewen, ondanks ʼn rooi kaart wat die flank Peter O’Mahony gekry het vir twee duikslae (geel kaarte) wat hy uitgevoer het sonder om sy arms te gebruik.

Soos gewoonlik het die Springboksenter Damian de Allende gedy in sy taak om die bal oor die voordeellyn te neem.

Die Scarlets kon nie een drie druk nie en die heelagter, Leigh Halfpenny, het met nege strafdoele geslaag. Dit het die vorige rekord van Stephen Jones en Byron Wayward (albei agt strafdoele) in die reeks laat spat.

Nie een drie in ʼn Superwedstryd nie?

Wat wel tot groot voordeel van die Suid-Afrikaners gaan wees, is dat Johann van Graan vir Munster afrig en baie waarde tot spelpatrone en taktiek kan toevoeg.

Dan het Rassie Erasmus en Jacques Nienaber ook twee jaar lank vir Munster gebrei, waar die span steeds dieselfde wedstrydplan volg.

* Daar was twee verrassings in die nuwe seisoen se eerste ronde nadat die Walliese Ospreys, wat slegs twee van hul laaste 15 wedstryde kon wen, Edinburgh met 25-10 verslaan het en Connacht die Glasgow Warriors met 28-24 geklop het.

Edinburgh se Suid-Afrikaanse losskakel, Jaco van der Walt, het windskeef gekorrel en met twee strafskoppe misluk, wat tot sy span se ondergang bygedra het.

Die oud-Stormer-senter Huw Jones, wat heelagter vir Glasgow gespeel het, het ʼn puik drie gedruk, maar dit kon sy span nie tot ’n sege stuur nie.

Die oud WP-slot Quinn Roux (Connacht) is met ʼn geel kaart afgestuur.

* Vrydagaand in Belfast het die vurige Springboklosvoorspeler Marcell Coetzee, wat verlede week drie keer deur Ulster op die jaarlikse toekenningsaand vereer is, oudergewoonte ʼn drie gedruk om sy span tot ʼn sege van 35-24 oor Benetton aan te vuur.

* In die Engelse Premierliga saai die Covid-19-pandemie steeds chaos nadat die kragmeting tussen Gloucester en Northampton Saints gekanselleer moes word.

Gloucester het volgens die reëls die wedstryd met 20-0 “gewen” en het sewende op die puntelys geëindig.

Dan is die Sale Sharks, met nege Suid-Afrikaners in hul groep, se belangrike kragmeting met die Worcester Warriors van Sondag tot Woensdag uitgestel omdat ʼn rits spelers en beamptes positief vir die virus getoets het.

Sale moet die kragmeting wen om tot die uitspeelrondes deur te dring en dis hoekom albei klubs daartoe ingestem het om die wedstryd uit te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tweeling ·

Wel waarmee het die bokke die wb laasjaar gewen – met verdediging en skrums. Daar is genoeg ervare spelers in elke span om die boodskap van styl oor te dra. Ek glo ons skrums is beter as in Europa.

twaalfboor ·

Met ander woorde ons gaan stampkar rugby moet aanskou.

Frans ·

Dit is mi een van die domste besluite wat SARU ooit geneem het.Die Noordelike halfrond kon van dat die Rugbywêreldbeker in 1987 begin is,nog net een keer (Engeland) 2003 wen teenoor die Suidelike halfrond se 8 keer.NZ 3,RSA3,Aussies 2.

Die wêreld se rugbykrag lê dus in die Suidelike en nie Noordelike halfrond nie.Daarom wemel noordelike halfrondspanne van Suidelike halfrondspelers wat hul dan ook weens sterker geldeenhede
maklik werf.

Pleks om op die Noordelike halfrond re moddervelde te gaan rondploeter moet SARU se eerste mikpunt wees om die plaaslike Superrugbykompetisie op die vlak van NZ-spanne te bring.Doen ons dit gaan ons pawiljoene weer volmaak en borge trek.Dit verg ‘n ander benadering-‘n wegbeweeg van blinde provinsialisme waar elke afrigter ‘n haan op sy eie mishoop is.

Doen ons dit en met ‘n eenvormige spelpatroon gaan ons internasionale kompetisies wen en sal die
Aussies en Kiwis bakhand staan om ons in hul suidelike halfrond kompetisies in te sluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.