Pro14-reeks: is daar al lig in die tonnel?

Ja, daar moet nog baie water in die see loop en die Europese seisoen sal eers oor sowat agt maande eindig, uitspeelwedstryde ingesluit.

Dink net daaraan, die Europese winter moet nog kom en dan gaan, al die oorsese spanne moet wye draaie in Suid-Afrika loop. Die plaaslike afrigters, Rory Duncan van die Cheetahs en Deon Davids van die Southern Kings, asook die spelers, sal gaandeweg gewoond raak aan die vereistes en aan die toestande wat deur die spanne in die Noordelike Halfrond gestel word.

Dus moet ʼn mens seker nie te veel daarin lees dat die Cheetahs Saterdag met 51-18 deur Munster op Thomondpark in Limerick afgeransel is nie en die Kings met 32-10 deur Connacht in Galway geklop is nie.

Verlede week het die Cheetahs en Kings saam 99 punte afgestaan en net 19 aangeteken. Saterdag was dit 83 punte afgestaan, maar darem 28 aangeteken.

Maar moenie jou deur statistieke laat mislei nie. Dit gaan nie net oor teen wie en waar jy gespeel het nie, maar ook oor jou vermoë om aan te pas, of jou verdedigingspatrone verbeter het en hoeveel kanse geskep en benut is. Dus is dit gans te vroeg om nou al die valbyl te laat val.

ʼn Mens sal eers ná komende Saterdag en die week daarna se wedstryde weet of die Cheetahs en Kings in troebel water sal kan swem.

Die Cheetahs speel tuis teen Zebre, die Italiaanse melkkoeie van die reeks. Die week daarna word Leinster, een van die reuse van Ierse rugby, gepak. Vir die Kings is dit andersom, eers Leinster in die Baai en dan Zebre.

Wat ʼn mens wel wys kan word, is dat Rassie Erasmus Munster in ʼn baie gedugte eenheid gesmee het. ʼn Harde pak voorspelers, goeie tegniek, goeie verdediging en aanvallers wat kan afrond.  ʼn Mens sidder as jy daaraan dink dat die beste Ierse spelers nog uitgespaar word om te rus.

Munster en die Glasgow Warriors (wat deur Dave Rennie van die Chiefs afgerig word), gee die toon in Groep A aan.

In die ander afdeling het die Walliese Scarlets, Leinster, Ulster en Edinburgh na vore getree, met Zebre en die Kings wat sake om die houtlepel kan uitspook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

dollie ·

Cheetahs en Kings gaan uit Pro 14 geskop word soos in SR gebeur het. Hulle is nie mededingend genoeg nie / het nie die nodige diepte nie. ‘n Skande vir SA rugby.

vrikie ·

Het Rassie Erasmus die sukses behaal met sy afrigtingstegniek of met ‘n beursie in die hand

Pieter Ellis ·

Verseker beide. Hy het homself as n baie bekwame afrigter bewys. Met n dik beursie, is die taak net soveel makliker.

dollie ·

Cheetahs moet nie nou huil nie. Hulle was voorbarig genoeg om sommer onmiddellik in die oorsese kompetisie deel te neem so asof dit sommer ‘n maklike skuif gaan wees. Dit sal interessant wees om te sien of hulle darem die Italiaanse spanne sal kan klop.

Dawie ·

Aan Maroela,

Die afrigter van die Kings is DEON Davids en nie “Francois” nie, mits ek iets gemis het?

Cyril Blackburn ·

Dagsê Dawie
Dankie vir jou kommentaar! Jy is inderdaad heeltemal in die kol – ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Dawie ·

Gee kans, wie het nou verwag die manne gaan dadelik aanpas. Alhoewel, die Cheetahs lyk hopeloos, weet nie wat daar aangaan nie. Kings alreeds gewys hul sal weer saam gesnoer kan word in gedugte span.

Robert ·

Vrikie,Pieter,
Is waar, maar ek dink nie Rassie word deur transformasie en politiek in die gesig gestaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.