Pro14-reeks: nie veel vir die Kings om na uit te sien nie

Dit gaan ʼn lang, koue en nat winter vir die Southern Kings in die Pro14-reeks wees.

Leinster, wat steeds sonder van hul voorste Ierse toetsspelers was, met verskeie wat met beserings sukkel (Rob Kearney, Garry Ringrose, Jamie Heaslip, Richardt Strauss, Ian Nagle, Dan Leavy en Peader  Timmins), twee sleutelspelers (Devin Toner en die Wallaby-flank Scott Fardy) aan wie vaderskapverlof toegestaan is, en ook sonder die kaptein, Isa Nacewa, en die oud-Hurricanes-skrumskakel Jamison Gibson-Park moes klaarkom nadat hulle Woensdagaand na weens die visumkwessie na Dublin teruggestuur is, het die Kings in die Nelson Mandelabaai-stadion maklik met 31-10 geklop.

Drie gespeel, drie verloor, slegs 30 punte aangeteken en reeds 120 punte afgestaan. Dis wat op die Kings se vorderingverslag staan.

Daar was Saterdag slegs ʼn handjievol toeskouers in die Baai en daar sal ingegryp moet word, want die Kings se vertonings plaas ʼn demper op die reeks.

Almal weet dat die Kings (weer) aan die diep kant gegooi is en sukkel om kop bo water te hou.

Die leenspelers sukkel om aan te pas en daar is nie genoeg diepte nie.

♦  Vir die Cheetahs is die vooruitsigte  baie beter, want hulle het ná ʼn sege van 54-39 oor Zebré in Bloemfontein van die onderpunt van die punteleer af opgeskuif.

Ja, die Cheetahs se verdediging laat veel te wense oor en ja, die rondvallery tussen die Pro-14 en Curriebekerreeks kan hulle aan die hakskene byt, maar die bond het minstens die bul by die horings gepak deur duisende toeskouers (gratis) stadion toe te lok.

Dit spoor die tuisspelers aan en onthou, die wedstryde word oorsee op televisie uitgesaai, wat ʼn goeie beeld skep.

Daar is min dinge wat ʼn span ophef soos ʼn oorwinning (al was dit teen een van die houtlepelspanne). Nou kom Leinster Saterdag aan die beurt en sal ʼn mens ʼn beter idee kry of die Cheetahs die mas sal opkom.

♦  Munster, wat die Ospreys met 21-16 geklop het, en die Glasgow Warriors, ná hul oorwinning van  20-19 oor die Cardiff Blues, is voor in die Cheetahs se afdeling.

In die ander afdeling is Leinster en Ulster, wat die Scarlets met 27-10 geklop het, onoorwonne en saam voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.