Pro14: Volop toetservaring, ses SA spelers teen Cheetahs

Jean Deysel, klipharde flank wat vir die Sharks gespeel het, draf Vrydagaand teen die Cheetahs uit. (Foto: Twitter @Marcell_Coetzee)

Daar is twee Springbokke en twee Ierse toetsspelers onder die ses Suid-Afrikaners wat hul rugby in Suid-Afrika geleer het, ingesluit in die span van Ulster wat Vrydagaand (20:35 SA tyd)  teen die Cheetahs in die nuwe era van Pro14 rugby speel.

Die wedstryd in Belfast sal ongetwyfeld groot uitdagings aan die Vrystaters stel.

Marcell Coetzee en sy flankmaat van die Sharks Jean Deysel het albei toetsrugby vir Suid-Afrika gespeel, en Ulster slot/losvoorspeler Robbie Diack, wat vir die WP en Stormers uitgedraf het, het Ierland verteenwoordig.

Coetzee speel Vrydagaand agsteman.

Ulster se haker Rob Herring het reeds meer as 120 wedstryde vir Ulster agter die rug nadat hy van Londen Irish af in 2012 ʼn draai by die WP gemaak het. Hy was by Sacs in Kaapstad op skool en het in 2014 toetsrugby vir Ierland gespeel.

Die ander twee Suid-Afrikaners wat Superrugby gespeel het, is die voormalige heelagter van die Lions en later die Sharks Louis Ludik wat Vrydagaand vleuel speel om plek te maak vir die oud-All Black Charles Piutau, en die oud-vaskop van die Sharks Wiehahn Herbst.

Die Wallaby van die Brumbies wat lank weens leukemie nie kon speel nie maar vanjaar sy terugkeer gemaak het, Christian Lealiifano, speel losskakel vir Ulster. Die vleuel van die 2009 Britse en Ierse leeus wat in Suid-Afrika getoer het, Tommy Bowe (Vrydagaand op senter) en die ervare regtervleuel Andre Trimble wat al meer as 70 toetse vir die Iere gespeel het, is ander groot name. Die skrumskakel John Cooney het ook al in ʼn toets uitgedraf en so ook Bowe se sentermaat Stuart McCloskey.

Ulster se span –
15 Charles Piutau, 14 Andrew Trimble, 13 Tommy Bowe, 12 Stuart McCloskey, 11 Louis Ludik, 10 Christian Lealiifano, 9 John Cooney, 8 Marcell Coetzee, 7 Chris Henry (kaptein), 6 Jean Deysel, 5 Alan O’Connor, 4 Robbie Diack, 3 Wiehahn Herbst, 2 Rob Herring, 1 Kyle McCall. Bank: John Andrew, Callum Black, Rodney Ah You, Matthew Rea, Sean Reidy, David Shanahan, Peter Nelson, Darren Cave.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.