Pro18-reeks: Dis SA teen Ierland

Die Bulls-span (Foto: Bulls/Twitter)

Aanstaande seisoen se Pro18-reeks waaraan vier Suid-Afrikaanse rugbyspanne gaan deelneem, stuur af op ʼn hewige armdrukkery tussen die Bulls, Lions, Stormers en Sharks en die vier Ierse spanne, Leinster, Ulster, Munster en Connacht.

Dit volg nadat Leinster (50 ligapunte) die naweek sy voorsprong in Afdeling A van vanjaar se Pro14-reeks behou het, met Ulster (46) kort op sy hakke, terwyl Munster (42) en Connacht (27 punte) die toon aangee in Afdeling B.

Leinster het Saterdagaand, sonder 16 toetsspelers wat hulle by die Ierse nasionale span vir die komende Sesnasies-reeks moes aanmeld, ʼn sege van 52-25 oor die Walliese Scarlets behaal.

Leinster, wat sewe drieë gedruk het, het dié seisoen reeds 56 drieë gedruk.

Die Walliesers was sonder 11 toetsspelers, terwyl nog 13 ander spelers vanweë Covid-19 of beserings nie kon speel nie.

Die Ierse rugbyspan Munster. (Foto: THIERRY ZOCCOLAN / AFP)

Nogtans was dit ʼn trotse oomblik vir die oud-Springbok-agtsteman Uzair Cassiem wat in sy 50ste wedstryd vir die Scarlets gespeel het.

Wanneer die vier Suid-Afrikaanse spanne in April in die Reënboogreeks teen die Pro14-spanne speel, sal dit meestal teen verswakte spanne wees, omdat die Pro14-reeks dan sy hoogtepunt bereik.

Nogtans sal dit ʼn aanduiding wees wat om te verwag, hoewel die weer in April hemelsbreed verskil van die koue en reën wat nou in Europa heers.

Munster, wat Benetton met 18-16 geklop het na ʼn doodsnik-skepdoel deur JJ Hanharan, het die Boksenter Damian de Allende (plaasvervanger-vleuel) en die flank Chris Cloete in die span gehad.

* In die Engelse Premierliga het die Sale Sharks (23) Vrydagaand tot die tweede posisie op die punteleer opgeskuif ná hul oorwinning van 25-15 oor die Leicester Tigers, hoewel die Exeter Chiefs (24) hulle Saterdag weer ingehaal en verbygeskuif het ná ʼn sege van 21-17 oor die Worcester Warriors.

Faf de Klerk, Robert en Jean-Luc du Preez, Akker van der Merwe, Cobus Wiese en Jono Ross was in Sale se beginspan met Coenie Oosthuizen wat in die tweede helfte opgestuur is.

Dit was terloops die eerste keer dat Cobus Wiese (Sale) en sy broer Jasper (Leicester) mekaar in Europa gepak het.

* Gloucester (7 punte) se toekoms in die Premierliga begin aan ʼn draadjie hang nadat die Northampton Saints dié kragmeting met 31-26 gewen het.

Dit was Gloucester se sesde nederlaag in sy afgelope sewe wedstryde.

Net een Suid-Afrikaner, Ruan Ackermann, wat verlede week sy kontrak by Gloucester verleng het, was in die span, terwyl Shaun Adendorff twee drieë vir die Saints gedruk het.

Adendorff, wat agtsteman vir die SA o.20-span in 2012 gespeel het en ook vir die Blitsbokke uitgedraf het, kon voorheen nog net een drie vir die Saints druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.