‘Proesel van die Goue Beker smaak mos na meer’

false-bay-logo-crop-320x320Noudat DirectAxis Valsbaai Goue Bekerrugby geproe het, kan hy nie genoeg daarvan kry nie, laat weet die klub se ringkoppe.

Johnno van der Walt, die klub se hoofafrigter, en Jon Harris, die klub se skakelbeampte, het saamgespan om `n nabetragting van die afgelope seisoen aan Pale Toe! beskikbaar te stel. Die voorsitter, Kevin Lennett, lig die noodsaak en hoë koste van behoorlike geriewe uit.

Van der Walt en Harris laat weet die klub kla nie oor die feit nie dat hy met sy eerste probeerslag die eindstryd gehaal het van die nasionale reeks, wat nou `n internasionale baadjie aangetrek het.

“Twee van Valsbaai se vertonings in die reeks was egter nie op peil nie – dié teen Brakpan en Rustenburg Impala – en het die klub duur te staan gekom.

“Die klub het geleer reis, en hoe om by die skeidsregters in die res van die land en in die buurstate aan te pas. Elke wedstryd was `n uitdaging en daar was geen maklike kragmeting nie.

“In die gees van die reeks het Valsbaai ná wedstryde lekker saam met die teenstanders gekuier en talle vriende regoor Suider-Afrika gemaak. Graham Knoop en sy spanmaats het Valsbaai se naam op die landkaart geplaas.

“Saru en Duane Heath, die Goue Bekerreeks se projekbestuurder, verdien lof vir `n wonderlike reeks. Dit was sonder `n enkele haakplek, het vonkelrugby opgelewer en berge versit om landwyd weer die belangstelling in klubrugby op te hef.

Oorvloed spelers

“Valsbaai se grootste uitdaging vanjaar was om die oorvloed spelers waaroor die klub beskik te stimuleer en elkeen se belangstelling te behou in die geval van soveel meelewendheid en diepte.

“Om die kwessie te bowe te kom, het die klub `n derde span in die WPRU se Reserweliga ingeskryf en spog hy nou met ses senior en twee o.20-spanne en `n gesonde sosiale en oumanbestel.

“Al drie Reserweligaspanne was tussen die eerste vier en die sesde span het die liga gewen. Die o.20A-span het die beste buiten die universiteitspanne gevaar.

“In `n span soos Valsbaai is dit eenvoudig nie regverdig om enkelinge uit te sonder nie omdat elkeen sy bepaalde deel tot die span se sukses bydra.

“Spelers wat deurlopend uitgemunt het, was –

♦ die voorry, Wesley Chetty, Vlam van Vuuren en Ashley Wells;

♦ die slotpaar, Brendon Wood en Graham Knoop;

♦ die lostrio, Brent Stevens, Ryan Olivier en Justin van Winkel;

♦ die skakels Ridhaa Damon, Dylan Frylinck en Andri Claasen;

♦ die senterpaar, Riaan O’Neill en Byron Mohr, met Jason Pretorius wat waarde toegevoeg het elke keer as hy op sy voete op die veld gesit het;

♦ die agterste driehoek, Mustaqueem Jappie, Adnaan Osman en Danie Roux; en

♦ van die bank af Royal Mwali, Dasch Barber, Willie Coetzee, Aiden Monk en Roemark Smith.

Van der Walt en Harris sê die span se doelwit is om in 2017 weer aan die Goue Bekerreeks deel te neem, maar die uitdaging in die WP is veel groter as in enige ander bond.

“Ons sal egter dienooreenkomstig voorberei en wedstryd vir wedstryd benader.

“Daar is `n oorvloed staatmakers en die gevaar van uittrede is altyd daar. Soos die Springbok-heelagter Johan Heunis altyd gesê het: ‘`n Mens tree nie aan die einde van `n seisoen uit nie.’

“Die werklikheid is dat daar elke seisoen spelers uittree en plek maak vir jonges om oor te neem – 2017 sal nie anders wees nie. Ons sal op ons diepte en stelsel terugval sodat die volgende speler na vore tree om sy voorganger se stewels vol te staan.

“Spelers is altyd in die ope mark en nou, buitenseisoens, op soek na groener weiveld. `n Klompie spelers stel belang om by die klub aan te sluit, maar ons het `n puik o.20-program en kyk graag eers na wat ons eie talent bied voor ons iemand van buite invoer – tensy ons deur beserings daartoe gedwing word of `n gebrek aan diepte in `n bepaalde posisie dit vereis.”

Geriewe stel groot eise

Lennett voeg by dat die klub voor `n nuwe era staan waarin hy vir alle uitgawes, insluitende die onderhoud van velde en geboue moet pa staan. Dit plaas geweldige druk op die vrywillige span komiteelede.

“Boonop wag daar bepaalde projekte wat gefinansier en voltooi moet word, soos die spreiligte wat voortdurend opgeknap en onderhou moet word, en waarsonder die spanne nie kan oefen nie. Ons soek ook `n borg vir die mediese bystand langs die veld,`n groot koste as in aggeneem word dat ons elke seisoen nege spanne in die veld stoot.”

Die klub het pas sy velde se grasoppervlakte teen groot koste vervang. Ligte, water, alles kos geld.

Lennett sê Valsbaai is trots om met ondernemings soos onder meer DirectAxis en Daisy verbind te word, wat die klub die afgelope seisoen geldelik gesteun het.

“Ons sal hulle en hopelik nuwe borge in die nuwe jaar terugverwelkom om ons by te staan met die toenemende eise om `n top-gemeenskapsklub te bedryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.