Proewe dalk uitgedien, maar dit was die hoeksteen van Bokrugby

Rugbyproewe is jare lank al uit die mode, maar tog wonder jy of daar nie iets verlore gaan om spelers nie teen mekaar op te weeg nie wanneer hulle uit hul gemaksone en uit hul provinsialistiese spelpatrone gehaal word.

Donkiejare gelede, nog voor die koms van televisie en sakrekenaars, is daar weeklange proewe gehou om die aanspraakmakers te toets. Daar was gewoonlik ses spanne, ingedeel van die A- tot die F-span, wat van die Maandag af teen mekaar gespeel het.

Die keurders het gewoonlik langs die veld op stoele gesit, gewapen met hul notaboekies. So nou en dan het hulle koppe bymekaargesit en ʼn paar veranderings tydens die wedstryde aangebring. Ná die dag se spel het hulle opnuut vergader en wéér ses spanne gekies wat mekaar op die Woensdag gepak het.

En dan Saterdag se hoofproef, wanneer die Moontlikes die Waarskynlikes gepak het.

As ek reg onthou, is daar in 2002 laas Springbokproewe gehou – op Loftus Versfeld toe Rudolph Straeuli nog die Bok-afrigter was.

Die proefwedstryd het einde se kant toe gestaan toe twee jong spelers opgestuur is: Jean de Villiers en Brent Russell, wat toe albei reeds vir die Blitsbokke gespeel het.

Binne die bestek van 10 minute het hulle die landskap van Springbokrugby verander.

De Villiers het voortgegaan om die Bokke te lei en hy het in 109 toetse gespeel. As dit nie vir verskeie langtermyn-beserings was nie, sou hy baie na aan 130 toetse gedraai het.

In my boekie was hy een van die beste en bestendigste Springboksenters ooit. Hy het visie en vaart (veral in sy jong dae) gehad, en was ʼn goeie verdediger met die oog vir ʼn gaping.

Russell is een van die hartseerverhale van Springbokrugby. Hy was die klimtol van die Bokspan, op heelagter, vleuel, senter en losskakel.

Was hy in Nieu-Seeland (dink maar aan Damian McKenzie) het hy in baie meer as 23 toetse gespeel.

Maar as hulle nie daardie dag op Loftus gespeel nie, wonder ʼn mens wanneer en of hulle raakgesien sou geword het. En dit geld vir tientalle ander …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Proewe was die ideale geleenthed om kombinasies te toets.Vandag word hoofsaaklik op
Provinsiale kombinasies staat gemaak wat nie altyd suksesvol oorskakel in Springbokrugby nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.