Pukke en Maties sorg vir pragwedstryd

Die Tukkies het uiteindelik na vermoë gespeel en die Madibaz uitmekaar gehardloop. (Foto: GB Jordaan)

Was dít nou nie rugby op sy allerheerlikste nie!

Die NWU-Pukke en die Maties het Maandagaand in Potchefstroom vir ʼn rugbydis soos min gesorg en gewys dat daar meer as net ingedrilde patroonrugby deur robotte in die Suid-Afrikaanse stelsel is.

Die telling in die Varsitybekerstryd was gelykop, 33-elk. Dit beteken dat die Maties benewens die tuishalfeind aanstaande Maandagaand ook die voordeel van ʼn moontlike eindstryd sal hê omdat hulle met ʼn eenpunt-voorsprong op die punteleer op die veld gedraf het.

Albei spanne het vier drieë gedruk, albei het deurgaans met die bal probeer hardloop; en die opsies en vaardighede was indrukwekkend en bydraend tot die skouspel.

Die skrums was kragskrums waar nie een span wou skiet gee nie, en die Maties het hier merendeel die voordeel gehad. Die een faset waaraan albei dalk ekstra aandag sal gee, is die lynstane; en by die losskrums was daar verwoede inklimrugby met albei spanne wat van tyd tot tyd van die bal gestoot is.

Volpunte ook aan die afrigters, Jonathan Mokuena en Hawies Fourie. Hulle verdien lof vir die vaardighede en benadering van die twee spanne.

♦  UJ het op hulle tuisveld teen die Ikeys met 18-17 (twee drieë teen drie) deurgeskraap, en het daarmee in derde plek bo Wits op die punteleer ingeskuif. Hulle sal dus oor ʼn week op Potchefstroom teen die moeilike Perstruie in die een halfeind speel.

En Wits, wat nou vierde is, sal na Stellenbosch toe reis vir die ander halfeind teen die Pukke, teen wie hulle verlede week in Johannesburg in nóg ʼn riller net-net verloor het.

♦  Die Shimlas het na ʼn frustrerende seisoen uiteindelik alles op volle vaart gedoen en goed afgerond. Hulle het met 69-33 teen die Ixias gewen en by die Ikeys na  vyfde plek verbygeskuif nadat dié teen UJ verloor het.

Die Shimlas se nege drieë, vyf daarvan sewepunters, moet egter in perspektief geplaas word.

Dit is teen die Ixias behaal wat, onlangs aansienlike verbetering na die einde van die reeks toe, duidelik nie op peil is om op hierdie vlak mee te ding nie.

Die Ixias het weliswaar van 0-21 af teruggeveg om met ʼn naelskraapse agterstand van net 21-28  te gaan water drink, maar is toe heeltemal deur die hardloopwerk van die Shimlas oorskadu.

Die neerlaag het beteken dat die Ixias in die onderste twee sou eindig, met hulle hoop dat UP-Tuks met die Madibaz sou afreken om laasgenoemde tot outomatiese relegasie te dwing.

Dít sou aan die Ixias die kans gee om hulle status as Varsitybekerspan in die uitspeelwedstryd teen die Walter Sisulu-Universiteit te behou.

♦  En so was dit ook … Tukkies het op hulle tuisveld eenvoudig met die Madibaz gemors wat dus laaste eindig. Hulle sal aanstaande jaar in die Varsityskildreeks speel met die Universiteit Wes-Kaap wat na die uitsoekreeks om die Varsitybeker opskuif.

Tukkies het met 82-21 gewen nadat hulle rustyd reeds met 38-14 voor was en het 11 drieë gedruk. Die groot skrik vir relegasie en afrigtingskuiwe hier teen die einde van die reeks het Tuks laat regruk – al was dit teen die moedelose Madibaz en heeltemal te laat in die reeks.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oud Puk ·

Altwee wedstryde kan nie by Potchefstroom gespeel word nie, Wits gaan na Maties toe vir die ander halfeind

Tania Heyns ·

Dagsê Oud Puk

Dankie vir jou kommentaar. Wits gaan inderdaad Stellenbosch toe vir die halfeindstryd. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.