Pumas al wat vir CB-opflikkering kan sorg

Die Pumas is al span wat Vrydag ʼn bietjie opflikkering aan ʼn flou Curriebekerprogram kan verskaf.

Dit sal egter ʼn enorme verrassing wees indien die Laevelders, selfs op hul tuisveld in Nelspruit, die voortstuwende Sharks kan stuit.

Die KwaZulu-Natallers is onoorwonne in die reeks sedert hul Superrugby-verpligtinge afgehandel is en is die onbetwiste gunsteling om die rondomtalie bo-aan die punteleer af te sluit.

Dis nietemin die enigste wedstryd in die reeks wat ʼn mate van belangstelling ontlok.

Die enigste fut wat daar nog in die naweek se kragmetings oor was, is uitgehaal toe die Cheetahs met ʼn pennestreep van die Curriebeker-voorloper tot die reeks se melkkoei verneder is.

Dis onsinnig om te dink die Vrystaat kan betekenisvol aan die reeks deelneem as sy 30 beste spelers in ʼn oorsese reeks speel en die Westelike Provinsie sal dit Saterdag op Nuweland weer uitwys.

Vrydag se ander wedstryd tussen die twee agterosse, Griekwas en die Goue Leeus, lok waarskynlik nie groter belangstelling as onder hul mees stoere ondersteuners nie.

Nie een van die twee het nog vanjaar die verbeelding gaande gemaak nie en dis moeilik om ʼn gunsteling te bepaal.

Afskoptye –

Vrydag

17:00 Pumas teen Sharks, Mbombela-stadion, Nelspruit.

19:15 Griekwas teen die Goue Leeus, Griekwapark, Kimberley.

Saterdag

15:00 WP teen Vrystaat Cheetahs, Nuweland, Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.