Pumas breek WP se harte

(Foto: @TheCurrieCup/Twitter)

Die Westelike Provinsie sal vanaand nagmerries hê oor al die verbroude kanse teen die hardebaarde van Mbombela. ʼn Aanskoulike wipplank-wedstryd het gelykop geëindig op Nuweland in Kaapstad.

In die laaste Curriebeker-wedstryd van die naweek het die WP in die doodsnikke van die wedstryd punte gedeel met die Pumas. Die wedstryd het 40 – 40 geëindig in ʼn naelbytstryd wat twaalf drieë opgelewer het.

Die WP se pak voorspelers kon nooit die oorhand kry oor die taai Laevelders nie. Die kere wat hulle wel goeie balbesit gekry het, kon die spoedarsenaal agterlangs losgelaat word. Dit het uitgeloop op drieë vir Dan du Plessis en Seabelo Senatla. Die probleem is dat die Pumas elke keer teruggeslaan het wanneer die tuisspan punte aangeteken het.

Rustyd was die telling 26 – 19 in die tuisspan se guns. Dit het nie gelyk of Jimmy Stonehouse se span daardie agterstand van sewe punte sou uitwis nie – totdat die laaste tien minute aangebreek het.

Buitesenter Erich Cronjé het eerste gaan druk en enkele minute later was dit plaasvervanger-sterkman Eduan Swart wat oorgeduik het. Losskakel Eddie Fouché het albei drieë verdoel om die tellings gelykop te maak.

Losskakel Tim Swiel was die WP se generaal, maar die blitse aan sy buitekant het nie genoeg kwaliteit balbesit gekry nie.

Die Pumas het weer gewys hulle staan nie terug vir die groot spanne met die sterspelers nie. Voorlangs het die WP nie genoeg slaankrag gehad om die Pumas sag te maak nie.

Die Pumas het drie ligapunte verdien en opgeskuif na die derde plek op die Curriebeker-punteleer, een punt voor Griekwas en agt punte agter die Haaie, wat in die tweede plek is. Die Pumas het een wedstryd minder gespeel.

Die WP is in die vyfde plek op die punteleer, maar is net twee punte agter die Pumas.

Die Pumas speel Woensdag op hul tuisveld teen die voorlopers op die punteleer, die Bulle. Die WP pak die Leeus ook Woensdag op Nuweland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Swak WP swak. Maak julle huis skoon en begin by Dobson en Kie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.