Pumas is die Eersteliga-kampioene van 2013

imagesCAFC6FBF

Die OP Kings dra nie meer hul Curriebeker Eersteliga-kroon nie nadat die Steval Pumas hulle in die eindstryd in die Mbombela-stadion in Nelspruit met 53-30 afgeransel het.

Die Pumas se verdedigers het deurgaans hul alles gegee, elke kans gebruik om aan te val, met volslae kohesie gespeel en nooit op hul louere gaan rus nie. Hul onoorwonne rekord in vanjaar se Curriebeker spreek boekdele van hul karakter en daar is nie waardiger kampioene in hierdie afdeling nie.

Die Pumas het reeds in die eerste helfte duidelik getoon hulle wil die bal hou en daarmee hardloop. Hul dodelike aanvalle op die voordeellyn, vindingryke ingesteldheid en oorheersing in die kontaksituasies en op verdediging het hope gebiedsvoordeel bewerkstellig, strafskoppe afgedwing en hul voorsprong vroeg gerek en behou.

Nadat Carl Bezuidenhout vir die Pumas en Scott van Breda vir die OP elkeen ’n strafdoel oorgesklits het, het die Pumaslosvoorspeler RW Kember oorgeduik vir die eerste drie ná ’n lang aangee deur die einste Bezuidenhout. Die Pumaslosskakel het die doelskop verbrou: 8-3.

Daarna het die Pumas se drieëmasjien Rosco Speckman ’n paar bresse van omkeerbesit geslaan en vir Coenie van Wyk gegee. Hy het sy ore platgetrek en die voetresies oor die helfte van die veld teen Michael Kilian doellyn toe gewen. Bezuidenhout het weer mis geskop: 13-3. Van Breda en Bezuidenhout het met nog twee strafdoele elk voor rustyd geslaag: 19-9.

Die Pumas het hul momentum in die tweede helfte verder laat voorstu. Ná vyf minute het Stefan Watermeyer, weliswaar danksy omkeerbesit vanaf ’n Kings-lynstaaningooi, die Kingsverdedigers in die middeveld dronk gehardloop met ’n insnybeweging en vir Van Wyk gegee om agter die pale te druk. Bezuidenhout het die drie verdoel en kort daarna die telling ’n stewige 29-9 met nog ’n strafdoel gemaak.

Die Kings se wenhoop het daarna weer effens opgeflikker toe hul losskakel, Ntabeni Dukisa, deur die Pumas se verdediging gebars en onder die pale oorgeduik het. Van Breda het die twee punte bygevoeg: 29-16.

Bezuidenhout het sy span se telling gerek met ’n suksesvolle langafstand strafdoel: 32-16. Die Pumas se JW Bell het die sege met sowat 15 minute oor verseël toe Faf de Klerk die bal van agter ’n losskrum vir hom gegee het om nonchalant oor te duik. Bezuidenhout het dit verdoel: 36-16.

Die Kings het daarna verwoed aangeval en is met ’n strafdrie beloon toe Hannes Franklin gepootjie is met ’n oop doellyn voor hom. Van Breda het die drie verdoel: 39-23.

Selfs met 13 spelers op die veld ná twee geelkaarte het Van Wyk met vyf minute oor verspot maklik tussen twee Kingsverdedigers deurgehardloop vir sy derde drie. JC Roos het dit verdoel om sy span se telling weer dubbel dié van die Kings te maak: 46-23. Ronaldo Bothma het sy breier, Jimmy Stonehouse, van blydskap laat juig toe hy drie Kingsverdedigers uit die pad gestamp het om die sout diep in te vryf met ’n vyfde drie. Roos het die twee punte bygevoeg om die vreugdevure in die Laeveld hoog te laat brand: 53-23.

Justin van Zyl het darem in die doodsnikke ’n troosdrie  gedruk en Van Breda het dit verdoel: 54-30.

Puntemakers:

Pumas:

Drieë: Kember, Van Wyk (2), Bell

Doelskoppe: Bezuidenhout (2)

Strafdoele: Bezuidenhout (3)

OP Kings:

Drieë: Dukisa, Franklin (strafdrie), Van Zyl

Doelskoppe: Van Breda (2)

Strafdoele: Van Breda (3)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

Jimmy Stonehouse aan jou en jou puik span baie geluk. Julle het ons uiters trots gemaak. Nelspruit het uit sy nate gebars en rugby ondersteuners gaan weer stroom pawiljoene toe met die tipe rugby.

Moenie laat julle gebruf word oor die tree geelkaarte, persoonlik dink ek die ref moes iets gedoen het om te verhoed dat die kings toetaal afgeslag word. Toe daardie kaarte uitgedeel is, het die hel losgebars oor die kings. Welgedaan Pumas!

Ek verneem ‘betroubaar’ dat van die spelers saam watson na die wedstryd op hulle truie gekots het ……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.