Pumas is die groot gunstelinge

imagesCAFC6FBFTensy die OP Kings hul spelpeil skielik tot ’n nuwe vlak neem en die Steval Pumas onverwags oor die laaste hekkie struikel, gaan die Curriebekerreeks se Eerstelig-beker Vrydagaand in Nelspruit staangemaak word.

Dit was ’n lang en uitmergelende reeks en daar is min twyfel dat die twee beste spanne in hierdie eindstryd speel. Die Pumas is bo-aan die puntelys en het immers 66 punte deur die loop van die reeks versamel, wat heelwat meer is as die Kings se 51, wat weer ’n hele paar meer is as die Luiperds se 44.

Die Pumas, wat ook vanjaar Vodacombekerfinaliste was, is boonop onoorwonne ná 14 wedstryde, terwyl die Kings net 10 uit 14 keer aan die wenkant was. Die Pumas se halfeindstryd teen die SWD Arende was ’n klinkklare aanduiding van hoe gevaarlik Jimmy Stonehouse se span werklik is. Ná ’n flouerige begin het hulle die krane in die tweede helfte behoorlik oopgedraai, altesame ses drieë gedruk en gemaklik met 52-33 gewen. Dit bewys hul karakter, veral in ’n halfeindstryd.

Om onoorwonne in 14 wedstryde te bly, is een ding. Om dit soos die Poemas te doen, is iets heeltemal anders. Dit was die wyse waarop die Pumas hul gesag afgedwing het wat vrees by hul teenstanders inboesem. Behalwe vir vroeëre naelskraapse seges die Arende en Kings, het hulle al 67-17 met die Valke afgereken, die Boland Kavaliers met 44-21 geklop en die Grens Bulldogs met 42-10.

Die Kings se seisoen was meer wipplank en hulle moes in die ander halfeindstryd hard tot in bykomende tyd veg om die Luiperds met 32-29 te klop. Hulle het wel vroeër die seisoen met 18-22 teen die manne van Potchefstroom die knie gebuig en die Pumas het hulle in Junie maklik met 29-13 geklop.

Die Pumas is beseringloos vir hierdie stryd en sal al hul groot kanonne kan inspan. Onder hulle tel Carl Bezuidenhout, wat hierdie seisoen met statistieke van drie drieë, 45 doelskoppe en 30 strafdoele kan spog. Rosco Speckman het 11 gedruk, JW Bell 9 en RW Kember 7.

Die Pumas het laas in 2009 in die eindstryd van hierdie afdeling gespeel en dit was ook hul hul tuisveld. Vir die Kings is dit egter ’n bekende ritueel: Hulle speel vir die vierde keer agtereenvolgens in só ’n eindstryd en sal dus goed weet wat dit verg en voorbereid wees vir die druk.

Hoe dit ook al sy, die Pumas gaan Griekwas later pak om te bepaal wie speel volgende jaar in die Premierliga. As huidige vorm enige aanduiding is, gaan die Pumas hul vaardighede verder teen die bestes slyp in 2014.

Afskoptyd is om 19:00 om SS1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

Ons hier in die Laeveld sien geweldig uit na Vrydagaand. Komaan Puma’s wys daardie kotsende span waar hulle moet opgooi!!

Net jammer die bemarkings gedeelte is swak, want nerens op die plaaslike radio hoor ons van die wedstryd, sal dit seker teen die pale lees. Help nie ons sien net n beriggie agter Die Laevelder (koerant) oor die eindstryd. Kom Puma kry julle bemarking en advertensie in rat dat daar meer mense opdaag.

Nie te min sterkte manne ek is daar Vrydagaand!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.