Pumas hardloop Bulle van hul voete

Pure Puma-jolyt. Foto: Twitter.

Maar, gaan die stoere Bul-ondersteuners sê, Jake White se span het reeds vir die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks gekwalifiseer, dit was die heel laaste groepwedstryd en dit was ’n baie jong span wat die pad van Pretoria na Nelspruit aangepak het.

Oukei, gaan die Pumas se Jimmy Stonehouse en MJ Mentz antwoord, die Bulle kon steeds op spelers soos Morné Steyn, Ivan van Zyl en Arno Botha staatmaak.

Die Laevelders het vandag op die Mbombela-stadion vir ietwat van ’n opskudding gesorg toe hulle die Blou Bulle met 44 – 14 ore aangesit het.

Stonehouse het juis in ’n vorige onderhoud aan Maroela Media gesê dat die Pumas vanjaar ’n paar spanne in die Curriebekerreeks kan skrik maak. En die jong Bulspelers gaan inderdaad in die toekoms met nuutgevonde respek na hul Mpumalanga-bure kyk.

Die tuisspan het in die eerste helfte hul beste aanvallende voet voorgesit en veral Devon Williams se drie was ’n juweel toe hy sy eie skoppie skitterend opgevolg het om vyf punte aan te teken.

Foto: Verskaf.

Die rustydtelling was 34 – 7 in die Pumas se guns en die Bulle is behoorlik ge-blitzkrieg. Tog het die Pumas al vantevore ’n wedstryd weggesmyt nadat hulle hard in die eerste helfte gewerk het en Stonehouse-hulle was waarskynlik steeds op hul hoede.

Die Laevelders het egter meer as genoeg gedoen om hierdie wedstryd te wen, en hoewel die Bulle in alle waarskynlikheid as die uiteindelike Curriebeker-wenners gekroon sal word, kan daar vandag gerus fees in Nelspruit gevier word.

Die Pumas verdien dit dubbel en dwars.

  • Hoe die spanne gelyk het:

Pumas: Tapiwa Mafura (heelagter), Luther Obi (regtervleuel), Alwayno Visagie (buitesenter), Ali Mgijima (binnesenter), Etienne Taljaardt (linkervleuel), Devon Williams (losskakel), Ginter Smuts (skrumskakel), Willie Engelbrecht (agtsteman), Phumzila Maqondwana (flank), Daniel Maartens (flank), Darrien Landsberg (slot), Pieter van Vuren (kaptein en slot), Ig Prinsloo (stut), Simon Westraadt (haker) en Morgan Naude (stut). Plaasvervangers: AJ le Roux, Eduan Swart, Heath Backhouse, Francois Kleinhans, Tiaan Botes, Sebastiaan de Klerk, Liam Hendricks.

Blou Bulle: Clinton Swart (heelagter), Jade Stighling (regtervleuel), Marnus Potgieter (buitesenter), Dawid Kellerman (binnesenter), Stravino Jacobs (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Ivan van Zyl (skrumskakel), Tim Agaba (agtsteman), Arno Botha (flank en kaptein), WJ Steenkamp (flank), Janko Swanepoel (slot), Jan Uys (slot), Jan-Hendrik Wessels (stut), Joe van Zyl (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervanger: Johan Grobbelaar, Lizo Gqoboka, Marcel van der Merwe, Divan Venter, Elrigh Louw, Keagan Johannes, Kabelo Mokoena en Jay-Cee Nel.

  • Finale Curriebeker-punteleer vóór halfeindstryde:
  1. Blou Bulle 39 punte
  2. Westelike Provinsie 37 punte
  3. Sharks 35 punte
  4. Leeus 34 punte
  5. Cheetahs 31 punte
  6. Pumas 17 punte
  7. Griekwas 8 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Die Wolf ·

White is nie dom nie. Hoekom jou spelers blootstel aan beserings voor die eindstryd. Dit is goed dat die jonges ingespan word. Dit is daar waar die talent uitstaan vir die toekoms.

Piet ·

Lyk nie asof daar veel talent by julle “jonges” is nie. Goeie genade, wat ‘n pakslae.

Die Wolf ·

Al kry jy net een of twee spelers. Dan het jy iets bereik. Enige afrigter wat sy sout werd is, sal dit beaam. Gewoonlik is die leunstoel afrigters die kundiges.

Piet ·

Ek sien die skrywer reken ook sommer dat dit ‘n uitgemaakte saak is dat die Nulle die CB gaan wen. Pasop!!!

Die Wolf ·

Graag wil weet wat jou voorspelling is. Dit gaan hier oor goeie strategie en niks anders nie. Enige van die vier spanne kan die CB wen.

SjN ·

Jake werk met n plan, hoekom waag as jy reeds bo aan die punte leer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.