Pumas het vir groter unies gegrom

Die Pumas het ’n driedruk-skouspel teen die Blou Bulle gelewer. Foto: Johan Orton.

Die Pumas het weliswaar nie dieselfde diepte of begroting as die groter unies nie, maar die Laevelders verdien gerus ’n klop op die skouer vir hul Carling Curriebeker-veldtog.

In Jimmy Stonehouse het hulle ’n afrigter wat enige span tot hoër hoogtes kan inspireer; en die moedige Puma-spelers het ongetwyfeld hul gespierde afrigter beïndruk.

“In die voorafgaande Unlocked-reeks het ons teen franchise-spanne gespeel wat oor ongelooflike diepte beskik en ons het vooraf geweet waarvoor ons onsself inlaat. Ja, daar is ’n agterstand op die punteleer. Maar die wyse waarop ons gespeel en gewys het wat in ons steek, beteken vir ons tien keer meer as die punteleer,” het Stonehouse destyds vir Maroela Media gesê.

Ja, die Pumas is ’n kleiner unie, maar tog het ’n mens geweet dat hulle een van die groter unies gaan skrik maak. En hulle het presies dít in hul laaste wedstryd teen ’n jong Bloubulspan vermag.

Die spogsege van 44–14 het baie vir rugby in die Laeveld beteken en die spel van spelers soos Devon Williams, Willie Engelbrecht en Morgan Naudé het kennners laat regop sit.

Toegegee, dit was nie ’n volsterkte Pretoriaspan nie, maar die uitslag moes steeds vir Stonehouse breed laat glimlag het.

Eintlik het die Pumas in die geheel skaflik vertoon.

Daniel Maartens is een van die reeks se sterspelers. Foto: Johan Orton.

Daniel Maartens en Engelbrecht tel onder die toernooi se voorste driedrukkers, terwyl Ali Mgijima die meeste suksesvolle duikslae in die groepwedstryde uitgevoer het.

Hulle mag dalk nie een van die halfeindstrydspanne wees nie, maar die Pumas het gewys dat hulle vir die groot honde kan grom. Die saamblaf is ongetwyfeld om die draai; hulle hoort op hierdie vlak.

Curriebeker-statistieke soos op 14 Januarie 2021:

  • Meeste punte:
  1. Frans Steyn (Cheetahs) 93 punte
  2. Tiaan Swanepoel (Leeus) 63 punte
  3. Curwin Bosch (Haaie) 56 punte
  4. Tim Swiel (WP) 44 punte
  5. Morné Steyn (Blou Bulle) 40 punte
  • Meeste drieë:
  1. Eduan Keyter (Griekwas) 4
  2. Tiaan Swanepoel (Leeus), Gideon van der Merwe (Griekwas), Daniel Maartens (Pumas), Marco van Staden (Blou Bulle), Willie Engelbrecht (Pumas), Bongi Mbonambi (WP), Yaw Penxe (Haaie), Courtnall Skosan (Leeus) en Marnus van der Merwe (Cheetahs) het elk drie drieë gedruk.
  • Meeste kere die bal gedra:
  1. Steven Kitshoff (WP), Willem Alberts (Leeus) en Frans Steyn (Cheetahs) 40
  2. Clayton Blommetjies (Cheetahs) 39
  3. Tiaan Swanepoel (Leeus) 38
  4. Darrien Landsberg (Pumas) 35
  • Meeste “offloads”:
  1. Luther Obi (Pumas) 8
  • Meeste duikslae:
  1. Ali Mgijima (Pumas) en Jeandre Rudolph (Cheetahs) 62
  2. Daniel Maartens (Pumas) 60
  3. Steven Kitshoff (WP) 55
  4. Andisa Ntsila (Cheetahs) 53
  • Omgekeerde besit bewerkstellig:
  1. Jeandre Rudolph (Cheetahs) 9
  2. Gideon van der Merwe (Griekwas) 8
  3. Steven Kitshoff (WP) 5
  4. Daniel Maartens (Pumas) 4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alexander ·

Welgedaan Pumas. Gebrei deur ‘n uitstekende afrigter. Pumas behoort kompeterend te wees in die Oos-Eurposese reeks waaraan die Cheetahs moontlik gaan deelneem.

Die Wolf ·

Indien die Pumas en Griekwas ook finansieel sterk gemaak word soos die groter bonde, sal jy n ander ding sien. Wanneer daar slegs monopolie bestaan gaan dinge vinnig agteruit. SA rugby is besig om hulle self in die voet te skiet. Sterker kleiner bonde beteken goeie voeder materiaal vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.