Pumas-kaptein: ‘Ons glo dat ons op hierdie vlak hoort’

Pieter Jansen van Vuren. Foto: Hennie Homann/HH Photography and Design.

Onder Jimmy Stonehouse se bekwame afrigtersleiding is die Pumas ’n gedugte eenheid wat allesbehalwe kanonvoer in die Superrugby Unlocked-reeks is.

Vrydagaand op die Mbombela-stadion het hulle die hoog aangeskrewe Stormers-span – met Siya Kolisi en Herschel Jantjies inkluis – goed skrikgemaak. Ná 80 minute se aksiebelaaide spel het die Kapenaars weliswaar met 42 – 37 gewen, maar die Nelspruiters se heldedade het vir ʼn klomp nuwe ondersteuners gesorg.

“Ons is net ongelooflik opgewonde om weer te kan rugby speel. Die laaste gedeelte van die afsonderingstydperk was veral vir ons as spelers ’n frustrasie gewees – ons is toegelaat om te oefen, maar wedstryde was nog buite die kwessie,” het die Pumas-kaptein Pieter Jansen van Vuren aan Maroela Media gesê.

Die span moes meer as ʼn jaar wag voor hulle weer op die rugbyveld kon meeding. En hul vertonings op die veld vergoed dubbel en dwars vir hierdie verlore tyd.

Die Laevelders is tans vierde op die punteleer en ná drie wedstryde het hulle die meeste punte (95) aangeteken.

“Ons glo dat ons op hierdie vlak hoort en ons wil aan mense bewys dat ons hier kan speel en goed doen. Ons werk weekliks baie hard en ons wil sterk teen elke span vertoon.”

Eddie Fouché. Foto: Hennie Homann/HH Photography and Design.

Eddie Fouché het ’n uithalervertoning in sy no. 10-trui gelewer en selfs Kolisi het ná die tyd erken dat die Pumas-losskakel sy span onder kwaai druk geplaas het. Al twee spelers moes egter die veld met beserings verlaat wat hulle by die afbreekpunte opgedoen het.

Volgens Jansen van Vuren is Fouché tans in die hospitaal. Die vermoede bestaan dat hy ’n ernstige heupbesering opgedoen het. Hy kan vir die res van die seisoen op die krukkelys wees.

“Ek het gister vir hom ’n boodskap gestuur en hy het gesê dat hy vasbyt. Ons weet nog nie presies wat die omvang van sy besering is nie, maar ons hou duim vas dat hy spoedig sal herstel.”

Onder Stonehouse en sy afrigterspan het die Pumas juis ’n spankultuur gekweek wat vir niks skrik nie.

“Ons geniet ons rugby en ons speel vir mekaar. Coach Jimmy is ’n passievolle afrigter wat baie vir sy spelers en die Pumas omgee; dit is ’n voorreg om onder sy leiding te speel,” het die voormalige Klerksdorper gesê.

Foto: Hennie Homann/HH Photography and Design.

Natuurlik is daar ook talle Pumas-ondersteuners wat oor die vertoning van die skeidsregters mor – ’n aangee wat tot die Stormers se wendrie gelei het, word deur baie as ’n vorentoe-aangee bestempel.

Tog meen Jansen van Vuren dat sy span nie daardeur van stryk gebring moet word nie.

“Daar was inderdaad ’n paar beslissings waarmee ek nie saamgestem het nie, maar as ’n speler moet jy nie daarop fokus nie. Konsentreer eerder op jou eie pligte en dinge wat binne jou beheer is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Jammer maar as jy 37-14 voorloop en dan 4 driee in 10 minute afstaan om die wedstryd te verloor, dan het die damwal gebars en het jy nie verdien om te wen nie. Leer om vir 80 minute plus te speel boetas. Moet kommerwekkend vir die afrigter wees dat sy span so uit die bus val en ‘n groot voorsprong opgee op hul tuisveld.