Pumas klop WP in doodsnikke  

Die wêreld se rugbybase sit met hul hande in die hare oor ʼn probleem waarvoor hulle nie oënskynlik ’n oplossing het nie.

Rugby is die afgelope paar jaar opnuut in die spervuur oor die veiligheid van spelers en spelers wat aanvoer dat hulle deur nalatigheid harsingskudding opgedoen en nou die permanente letsels daarvan dra. Altesame 185 spelers wat skade opgedoen het, het Wêreldrugby reeds gedagvaar en die getal groei steeds aan.

Daar word nou gepoog om duikslae laer te maak in ʼn poging om die probleem te probeer bekamp en skeidsregters en TV-skeidsregters tree al hoe strenger op.

Vrydagmiddag in die Mbombela-stadion was daar nog ʼn geval wat opnuut vrae laat ontstaan het.

Die Pumas het hul Curriebekerwedstryd teen die Westelike Provinsie met 25-24 in die doodsnikke ná ’n geel kaart en ’n strafskop gewen nadat daar diep ongelukkigheid daaroor was.

Dit het gebeur nadat die WP-plaasvervanger Louw Nel met ʼn geel kaart en strafskop gestraf is nadat hy die Pumas se skrumskakel, Chriswill September, met sy arm tydens ʼn duikslag teen die kop getref het.

Binne die reëls kon die skeidsregter en TV-skeidsregter tot geen ander besluit kom nie, omdat September teen die kop getref is. Maar hy was op pad grond toe nadat hy van agter af deur ʼn ander teenstander geduik is. As hy regop gebly het, sou daar na alle waarskynlik niks fout met die Louw-duikslag gewees het nie.

Dit was ook hoekom hy nie ʼn rooi kaart gekry nie, want daar was versagtende omstandighede.

Brandon Thomson het die strafdoel oorgeklits en die Pumas het deurgeskraap.

Die WP kan egter nie net die Louw-voorval uitsonder nie, want hulle het verskeie kanse deur hul vingers laat glip, veral toe die Pumas in ʼn stadium met net 13 spelers (twee geel kaarte) moes klaarkom.

Die Pumas (29 punte) is nou weer voor op die puntelys nadat die Vrystaat-Cheetahs onverwags teen die Haaie in Bloemfontein verloor het. Die Pumas kom onder al groter druk en die beseringspook begin weer kuier.

Nou sal daar diep gedelf moet word.

Puntemakers:

Pumas 25 (19): Drieë: Corné Fourie (2), Stefan Coetzee. Doelskoppe: Tinus de Beer (2). Strafdoele: De Beer, Brandon Thomson.

Westelike Provinsie 24 (17): Drieë: Sacha Feinberg-Mngomezulu, Jarrod Taylor, Luke Burger. Doelskoppe: Feinberg-Mngomezulu (3). Strafdoel: Feinberg-Mngomezulu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.