Pumas kraai koning in Nelspruit

imagesCAOLAJD0

Die Steval Pumas het vyf drieë gedruk in ‘n aksieblaaide wedstryd en die Luiperds in ‘n dolleë Mbombelestadion in Nelspruit met 38-20 (rustyd 16-6)  getroef.

Die wedstryd was skaars aan die gang of Jaco Peyper moes ‘n geelkaart uitpluk om Edmar Marais koelkas toe te stuur nadat hy aan Rosco Spekman se rasta lokke gepluk het.

JC Roos het die eerste punte vir die Pumas op die telbord geplaas na 10 minute maar Adriaan Engelbercht het dit 3-elk gemaak kort daarna.

Roos het nog ‘n strafdoel behaal en dit was die teken vir die Pumas se Trompie Pretorius om die eerste drie van die wedstryd te druk in die 22ste minuut. Roos het verdoel en hy het die telling 13-3 gemaak. Kort voor rustyd het die spanne elk ‘n strafdoel behaal en die telling het na 40 minute op 16-6 gaan stilstaan.

Kort na die begin van die tweede helfte het Peyper se hand weer sak toe gegaan vir nog ‘n gele nadat die Pumas se RW Kemp sy hande een keer te veel in die losskrum gehad het. Engelbrecht kon nie vir die Potchefstromers kapitaliseer op die Pumas se fout nie en die Luiperds was nog steeds 10 punte agter na 54 minute.

Intussen het die tuisspan twee drieë gaan druk terwyl hulle met 14 spelers gespeel het; die eerste deur Van Wyk en die tweede deur Speckman.

Roos kon dit egter net 28-6 maak pale toe.

Kort nadat Kemp terug was op die veld, het die Pumas hul bonuspuntdrie gaan druk en Corne Steenkamp het gaan druk. Roos se skopskoen het hom weer in die steek gelaat en die telling het aangerol na 33-6.

Tien minute later is Bothma oor vir die Pumas na ‘n rolmaal beweging, maar Roos kon nie die ekstra twee punte byvoeg nie en hulle moes tevrede wees met ‘n telling van 38-6.

Die Luiperds het teruggeveg en Luther Obi het sy soveelste drie vir die Luiperds gaan druk. Engelbrecht het verdoel en die telling het gekrimp na ‘n 25-punteverskil.

Jarryd Buys het ‘n troosdrie gaan druk vir die Luiperds en Engelbrecht het verdoel vier minute na die wedstrydtoeter geskree het.

Die Pumas het nou 52 ligapunte na 11 wedstryde en loop 18 punte voor die SWD Arende in die tweede plek.

Puntemakers: Pumas: Driee: Trompie Pretorius,Coenie van Wyk,Rosco Speckman, Corne Steenkamp, Renaldo Botha Doelskoppe:JC Roos (2), Strafdoele Roos (3)

Luiperds: Driee: Luther Obi, Jarryd Buys, Doelskoppe: Adriaan Engelbrecht (2) Strafdoele: Engelbrecht (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.