Pumas laat Griekwas in hul eie gat val

(Foto: @GriquasRugby/Twitter)

Lig die hoed sommer baie hoog vir die Pumas se rugbyspan se twee afrigters, Jimmy Stonehouse en MJ Mentz, wat binne ʼn paar dae moes raap en skraap om ʼn mededingende span te kies wat Saterdagmiddag in Kimberley in die SuperSport Unlocked-reeks teen Griekwas gespeel het.

Nadat die Pumas verlede Vrydag met 53-31 deur die Vrystaat-Cheetahs verrinneweer is, het baie min kenners hulle kans teen die Poubloues gegee. Veral nadat Stonehouse tien veranderings aan die span moes aanbring weens ʼn rits beserings.

Boonop was die toestande, waar die kwik tot 38°C gestyg het, uiters straf.

Maar dis juis in sulke toestande waar die manne van die seuns geskei word, want die Pumas het met 27-21 gewen nadat hulle rustyd met 17-11 voor was.

Waar die Pumas verlede week teen die Cheetahs gesukkel het, het die span ʼn metamorfose ondergaan. Hulle het nie geskroom om die bal wyd te rek nie, hulle het die basiese beginsels in die vaste fasette goed uitgevoer en ʼn paar van die jonger manne kon Saterdagaand met groot oë gaan slaap het.

Dan het die komkommerkoel-losskakel, Eddie Fouche, gebaljaar. Sy taktiese skopwerk was uit die boonste rakke en sy skopwerk pale toe het klokslag die kof getref.

Wat het verkeerd geloop met die Poubloues wat die Bulls soveel opdraande op Loftus besorg het en net met 23-30 verloor het? Waar was die veggees, die hegte verdediging en die regte besluitneming?

Hulle het in die vaste fasette gesukkel en op die afrigter, Scott Mathie, wag daar harde werk.

Punte: Pumas 27 (17): Drieë: Ginter Smuts, Neil Maritz, Devon Williams. Doekskoppe: Eddie Fouche (3). Strafdoele: Fouche (2).

Griekwas 21 (11): Drieë:  Victor Sekekete, Adré Smith.  Doelskop: George Whitehead (1). Strafdoele: Whitehead (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.