Dit was maar broekskeur, maar ʼn kanniedood-benadering en die fiksheid van die Stormers se plaasvervangers het Vrydagaand in Mbombela die Kapenaars van rooi gesigte gered.
Die Stormers het die kragmeting in die Superrugby Unlocked-reeks met 42-37 gewen nadat hulle ná byna ʼn uur nog met 14-37 agter was.
Die Pumas, wat hul harte uitgespeel en teen alle verwagting in die Stormers vir 60 minute soos ʼn klubspan laat lyk het, se stoom het opgeraak.
Die Stormers se plaasvervangers, met JD Schickerling en Jaco Coetzee aan die spits, het die stang vasgebyt en in die 79ste minuut die voortou geneem nadat hulle ses drieë gedruk het, waarvan vier in die laaste 20 minute.
Maar ai, as dit die gehalte van Suid-Afrika se keurspelers is, ys ʼn mens om te dink wat van die Springbokke in die Rugbykampioenskap kon geword het.
Ja, die Stormers het ʼn verswakte span gehad sonder onder meer Steven Kitshoff en Scarra Ntubeni wat weens Covid-19-protokolle nie kon speel nie.
Tog was daar vyf Springbokke in die span en ʼn mens sou verwag het dat hulle hul man behoorlik sou staan.
Boonop is daar in die week oor hul eie Bakkies Botha en Victor Matfield (Schickerling en Salmaan Moerat) gepraat, geskryf en gespog.
Stadig oor die klippe!
Die Pumas se afrigters, Jimmy Stonbehouse en MJ Mentz, het die ideale draaiboek in die eerste uur geskryf toe hulle die Stormers in hul eie gebied vasgepen het, hul opskietverdediging geneutraliseer het en besit omgekeer het.
Boonop moes die Pumas vir tien minute sonder hul vuurvreter-flank Jeandré Rudolph (geel kaart) klaarkom, maar die masjien het bly stoomroller.
Maar toe raak die stoom op en daar was niks wat die Pumas teen die blou golf kon doen nie.
Ewe skielik het Warrick Gelant, Leolin Zas en Edwill van der Merwe vlamgevat en bresse in die verdedigingspatroon begin slaan.
Daar sal gesê word dat die Pumas hul voorsprong probeer verdedig het, maar dit was nie geval nie, want die spelers se gô was behoorlik uit.
Puntemakers:
Stormers 42 (14): Drieë: Rikus Pretorius, Herschel Jantjies, Neethling Fouche, Bongo Mbonambi, Leolin Zas, Warrick Gelant. Doelskoppe: Tim Swiel (6).
Pumas 37 (30): Drieë: Neil Maritz (2), Jeandré Rudolph, Wayne van der Bank. Doelskoppe: Eddie Fouché (2), Niel Marais (2). Strafdoele: Fouché (3).
‘n Mens voel werklik vir die Pumas wat nie oor die finansies van groter bonde beskik nie en dus nie so.n sterk plaasvervangerbank het nie.Dan iets oor die skeidsregter en kommentators.
Beide was nie objektief in hul benadering en veral die kommentators se opmerkings het hul aan die kant van die Stormers geplaas,
Die skeidsregter straf die Pumas met ‘n geelkaart omdat die Pumas agsteman,wat ‘n uitstekende wedstryd gespeel het, volgens hom die Stormers skrumskakel effens hardhandig behandel het
oor die kantlyn. Hy het niks gedoen toe twee Stormers soos swaeltjies in ‘n losgemaal induik met die uiteindelike doel om te verhinder dat die Pumas die losbal wen.Hierdie was onnodige gevaarlik spel wat tenminste ‘n strafskop regverdig het en waar sommige skeidsregters ‘n geelkaart sou uitgereik het.
Kort daarna verloor die Pumas hul losskakel.Ook het hy toegelaat dat veral Stormers spelers hande viervoet oor spelers staan om die bal te beskerm .So naby en tog sover Pumas.
Uit die kommentaar blyk dit dat die Pumaflank en nie agsteman die geelkaart ontvang het.’n Fout van my kant maar ‘n geelkaart was onnodig en ‘n strafskop meer as genoeg straf.
Goeie wen. Swakker spanne sal heel moontlik vasval in Nelspruit. Geen Springbokke op die Stormers se plaasvervangersbank nie, daai ouens het die ding gedoen.
Welgedaan Pumas
Pumas het dit amper regkry. Stormers was maar bewerig vir 60 min, maar mooi teruggekom laaste 20 min.
Ek haat die geel en rooikaart. Wil vir 80 minute twee volledige spanne op die veld sien. Is daar nie ‘n ander manier nie?