Pumas looi WP, gooi Curriebekerreeks wawyd oop

Die Pumas het Vrydagaand die Curriebeker-puntelys deurmekaar gekrap in hulle wedstryd in die Mbombelastadion teen die Westelike Provinsie.

In ʼn wedstryd wat weens te veel hanteerfoute, merendeels aan WP-kant, nooit aan die gang kon kom nie, het die Pumas  met 22-12 gewen.

♦  Die WP het nou, na ʼn swak begin die seisoen en toe ʼn baie goeie herstelpoging, net vier van hul agt wedstryde gewen. Hulle is steeds derde op die punteleer, gelyk met die Pumas wat aanvanklik in die kompetisie gesukkel het maar nou begin ritme kry.

Die WP het egter ʼn wedstryd minder gespeel.

Van die ander spanne se kanse om nog die halfeind te haal, het egter na die WP se neerlaag skielik stukrag gekry. Daar is nou vyf spanne binne sewe ligapunte van mekaar wat nog almal realisties kan deurdring. (Klik op die skakel https://maroelamedia.co.za/curriebeker-2017/ vir die uitslae en puntelys)

♦  Die WP het na Seabelo Senatla se onderskepdrie in die 20ste minuut nie weer ʼn enkele punt aangeteken nie. Hulle was toe met 12-3 voor, wat ook die rustydtelling was.

In die tweede helfte het die tuisspan 19 punte bygevoeg

Die Pumas het met ʼn duidelik-uitgewerkte plan die bal selde na die agterlyn laat loop behalwe as hulle dit ná ʼn aantal fases op die WP se doellyn kon doen.

Stefan Ungerer was agter die skrum die generaal en het saam met sy skakelmaat Kobus Marais die spel gedikteer. Justin van Staden het met sy skopwerk ook ‘n belangrike rol gespeel.

Die WP-skrumskakel, Jano Vermaak, is lelik deur die slordige spel van sy voorspelers in die steek gelaat en kon daarom dikwels nie die bal behoorlik laat loop nie.

Die WP se eerste volle agterlynbeweging was gevolglik eers in die 76ste minuut, toe hulle desperaat van hulle eie doellyn af moes aanval om die agterstand uit te wis.

Dit was ʼn klipharde wedstryd en nadat die WP ʼn keer of wat die Pumas in die skrums oorheers het, was dit ná rustyd ʼn ander saak.

Die WP se afrigter John Dobson is nie ʼn man wat droogmaak duld nie, en ʼn mens sou graag wou by wees wanneer hy Maandag met sy manne praat …

Puntemakers –

Pumas (3) 22: Drieë: Kobus Marais, Frankie Herne, Jerome Pretorius. Doelskoppe: Marais 2. Strafdoel: Marais
WP (12) 12: Drieë: D Schickerling, Seabelo Senatla. Doelskop: Damian Willemse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.