Pumas maak Bulle (amper) skrik

Die Blou Bulle het aanvanklik te veel strafskoppe in die Laeveld afgestaan, maar hulle het die Pumas uiteindelik met 33 – 26 geklop. Foto: Twitter.

Einde 2018 het Jimmy Stonehouse in ’n onderhoud gesê dat die Pumas altyd ’n krag sal wees waarmee daar rekening gehou moet word. En vandag op die Mbombela-stadion moes die Blou Bulle sweet om die Laevelders met 33 – 26 te klop.

Die manmoedige tuisspan het met passie en aggressie gespeel en die Pretorianers moes aanvanklik onder die warm Laeveldse son bontstaan.

Eddie Fouche het oudergewoonte ’n barshou gespeel, terwyl Sebastian de Klerk ’n uitstekende drie teen die verloop van spel gedruk het. Dan het die Ikeys-kaptein Niel Otto sy stempel dubbel en dwars op die wedstryd afgedruk en hy het beslis die lewe vir die Bulle by die afbreekpunte bemoeilik.

As hierdie wedstryd 20 minute korter was, sou daar waarskynlik ’n ander wenner gewees het.

Maar rugby is ’n spel van 80 minute en die Pretorianers het stelselmatig die oorhand begin kry. Hulle het sterker geskrum, hulle voorspelers het vir momentum gesorg en Johan Goosen het die nodige vonk in die agterlyn verskaf.

En om ’n rugby-cliché aan te haal: Dit is nie hoe jy ’n wedstryd begin nie, maar hoe jy hom eindig wat tel.

Spanne kan egter deesdae nie meer bekostig om die Pumas se aanslag ligtelik op te neem nie; hulle tel nie verniet onder die topspanne op die punteleer nie.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Strafdrie, Schalk Erasmus, Stravino Jacobs, Jan-Hendrik Wessels en Mornay Smith. Doelskoppe: Johan Goosen (3).

Pumas: Drieë: Niel Otto en Sebastian de Klerk. Doelskoppe: Niel Marais en Eddie Fouche. Strafskoppe: Marais en Fouche (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.