Pumas ontwrig Griekwas se hardlooppatroon

Op die droë Griekwa-park se klipharde, geelbruin veld waarvoor internasionale toerspanne in die ou dae so lugtig was, het Griekwas en die Pumas Sondag hulle taai Curriebekerwedstryd uitgespook.

Die Laeveldse besoekers was uiteindelik met 27-21 baas, grootliks te danke aan hulle opskietverdediging wat Griekwas se hardlooppatroon ontwrig het, en aan die sterk voorspelervertoning voor rustyd.

Sake het tot die 26ste minuut redelik gelykop verloop toe Griekwas die agterstand na 10-14 laat krimp het. Toe het die Pumas se groot loskop Khwezi Mona hul derde drie gaan druk en die voorsprong na 21-10 laat rek en was Griekwas in die knyp teen die besoekers wat voorlangs ʼn wurggreep gehad het.

Dit het 24-10 in die Pumas se guns geword met ʼn strafdoel vier minute voor die omdraaislag – Justin van Staden se eerste van die dag.

Ná rustyd het die tuisspan toenemend meer besit gekry en met hulle hardlooprugby probeer terugslaan.

Deurkom was egter min, want saam met die opskiet op die binne-agterspelers het die Pumas met die sogenaamde “piesang”-verdediging gebruik waar hulle buite-agterspelers as ’t ware gestaan en wag het dat hul teenstanders die bal moet kry.

Die tweede helfte het, tot die 58ste minuut, net die enkele onverdoelde drie van Renier Botha opgelewer ná ʼn goeie breekslag van Griekwas se heelagter, Eric Zana , een van die wedstryd se groot uitblinkers. George Whitehead het Griekwas ná 69 minute met ʼn strafdoel tot binne trefafstand op 18-24 laat naderkruip.

Van Staden het egter met sy tweede strafdoel drie minute voor die einde seker gemaak die Pumas gaan met vier ligapunte huis toe, met nog ʼn strafdoel van Whitehead wat in die oorblywende tyd gevolg het om aan Griekwas darem ʼn bonuspunt te besorg.

Met hierdie oorwinning het die Pumas nou op die punteleer van die laaste plek by die Goue Leeus verbygeskuif.

Puntemakers –

Griekwas (10) 21: Drieë: AJ Coertzen, Renier Botha. Doelskop: André Swarts. Strafdoele: Swarts, George Whitehead 2

Pumas (24) 27: Drieë: Jerome Pretorius, Chris Cloete, Khwezi Mona. Doelskoppe: Justin van Staden 3. Strafdoele: Van Staden 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niel Mare ·

Skrywer verwar die harde veld met die ou De Beers veld waar Griekwas die 1970 Curriebeker en in 1969 die Wallabies geklop het . Daar was n krieketblad in die middel van die veld , waar Griekwas ook hul provinsiale krieketwedstryde gespeel het .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.