Pumas se baljagter kry sy deurbreekkans

Marnus Schoeman, met die bal, by die twee 'leenspelers' van die Pumas wat Springbokke geword het, Faf de Klerk en Vincent Koch. Foto

Marnus Schoeman, met die bal, by die twee ‘leenspelers’ van die Pumas wat Springbokke geword het, Faf de Klerk en Vincent Koch. Foto zimbio.com

Een van Suid-Afrika se voorste baljagters die afgelope jare is deur die Stormers “geleen” – en dit mag dalk net sy kans wees om na hoër louere deur die breuk.

Marnus Schoeman, 28, die losvoorspeler van die Pumas, het hom by die Stormers aangesluit. Die Pumas het Donderdag in ’n verklaring aangekondig dat Schoeman op ’n leenbasis vir die Stormers in  die Superreeks beskikbaar is.

Dit is ʼn welverdiende geleentheid wat die taai kêrel kry nadat hy die afgelope jare die een bal na die ander omgekeer het – en boonop in algemene spel ook sy deel bygedra het.

Die voormalige Junior Springbok sal seker in sy agterkop hê dat twee van sy Pumaspanmaats, Faf de Klerk en Vincent Koch, as leenspelers by onderskeidelik die Lions en die Stormers Springbok geword het.

Schoeman het die Pumas reeds 29 keer verteenwoordig sedert hy hom aan die begin van die 2015-seisoen by hulle aangesluit het, nadat hy Griekwas tussen 2011-2014 in 65 wedstryde verteenwoordig het.

Hy het ook die Blou Bulle in 12 wedstryde tussen 2009-2011 verteenwoordig, nadat hy in 2009 vir die Junior Bokke uitgedraf het.

Schoeman sê “dit is elke rugbyspeler se droom om die Springbokke te verteenwoordig. Om Superrugby te speel is ’n stappie na daardie droom.”

Die Stormers speel hierdie naweek ’n opwarmingswedstryd teen die SWD Arende en Schoeman sal hoop om speelkans te kry om sy staal te toon.

Schoeman sal hom op 1 Junie weer by die Pumas aansluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietser ·

‘n Groot kans vir ‘n welverdiende speler. By die WP SAL hy springbok word as hy sy kant bring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.