Pumas trek Griekwas se tande in die skrum

(Argieffoto)

Wanneer om die houtlepel baklei word, word geen genade gegee of gevra nie.

Dit is hoekom die vreugde Vrydagaand in Mbombela in die Pumas se afrigtershokkie so groot was toe die tuisspan Griekwas met 22 – 17 in ʼn Curriebekerwedstryd geklop het nadat hulle rustyd met 15 – 7 voor was.

Jimmy Stonehouse en MJ Mentz (afrigters) het mekaar omhels, ʼn teken van hoeveel die sege beteken het.

Ja, dit was soms ’n getjommel met baie foute aan weerskante, maar dink ook maar onder watter moeilike omstandighede die kleiner bonde moet voortbaklei. Hoe erg hulle gebuk gaan onder beserings met beperkte spelersgetalle, hoe die Covid-19-pandemie veral in die Pumas-kamp chaos gesaai het.

Dan het die nat veld na ligte reën sake verder beduiwel, soos toe Griekwas se losskakel, Tinus de Beer, nie die bal vyf meter van die Pumas se doellyn af kon uitskop na ʼn strafskop nie.

Waar het die Pumas die knoop deurgehak?

Reeds met die eerste skrum ná slegs drie minute se spel toe Ig Prinsloo, Simon Westraadt en Dewald Maritz Griekwas se voorry opgefrommel het.

Wanneer jy sake in die skrum beheer en daar is boonop talle skrums, is jou agterlyn op die voorvoet en is die stryd halfpad gewonne.

Dit syfer deur na die lynstane en losspel en op die verdediging. Dit steek vas in die agterkop.

Dan kon Griekwas weer, net soos ʼn hele paar keer dié seisoen, nie volhou nie. Hulle het lusteloos voorgekom en die ou kwaal dat hulle nie kan versnel en in die hoogste rat vir 80 minute speel nie, het hulle weer aan die hakskene gebyt.

Vir die Pumas was die oorwinning broodnodig, veral met die oog op die toekoms en hul borge.

Puntemakers:

Pumas 22 (15)

Drieë: Strafdrie (7 punte), Luther Obi, Daniel Maartens. Doelskop: Ginter Smuts. Strafdoel: Smuts.

Griekwas 15 (7)

Drieë: Eduan Keyter (2). Doelskop: Tinus de Beer. Strafdoel: De Beer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.