Pumas verander 14 vir Welwitschias op Ermelo

Die nuwelinge Wiehan Hay en Marlou van Niekerk. (Foto: André Meintjes)

Die nuwelinge Wiehan Hay en Marlou van Niekerk. (Foto: André Meintjes)

Die Pumas het 14 veranderinge aangebring in sy span wat Saterdag op die veld van die Hoërskool Ermelo in die opstellende ronde van die Curriebekerreeks teen die Welwitschias van Namibië speel.

Agt is in die opdrafspan – drie deur beserings genoodsaak – en ses op die bank.

Die slot Wiehan Hay (opdrafspan) en die senter Marlou van Niekerk (bank) sal hul buigings vir die Pumas maak.

Die vleuel Bernado Botha (kuit), die skrumskakel Reynier van Rooyen (skouer) en die slot en kaptein Hugo Kloppers (harsingskudding) is weens beserings nie oorweeg nie, en word onderskeidelik deur Deon Helberg, Emile Temperman en Jannie Stander vervang.

Luidens `n verklaring deur die Mpumalanga-rugbyunie (MRU) het Kloppers aanvanklik die harsingskuddingtoets geslaag, maar rus hy kragtens die nuwe mediese reëls wat bepaal `n speler moet `n week rus, sou hy in `n wedstryd enigsins bewusteloos raak.

Die senter Hoffman Maritz voer die span aan.

In die ander veranderings skuif Lambert Groenewald na agsteman in die plek van Carel Greeff en word hy op die flank deur Nardus van der Walt vervang; die nuweling Hay vervang Stephan Greeff, wat bank toe skuif; Frank Herne skuif bank toe om vir Francois du Toit plek te maak; en die ervare De-Jay Terblanche, wat `n paar maande in Frankryk gespeel het, vervang Simon Westraad op loskopstut.

Op die bank vervang Khwezi Mona vir Terblanche, Dylan Person vir Van der Walt, Johan Herbst vir Temperman, en Van Niekerk vir Helberg.

Die wedstryd bein 15:00 Saterdag en volg op die oggend se skoleligabepalings tussen die Hoërskool Ermelo (die Pumas-afrigter, MJ Mentz, se alma mater) en die Hoërskool Piet Retief.

Die kapteinsoefening is Vrydag 15:00 op die A-veld en die ondersteuners sal van 15:00 af `n tydjie saam met die span kan bestee.

Die span –

15. Heinrich Steyl, 14. Deon Helberg, 13. Hoffman Maritz (kaptein), 12. Hennie Skorbinski, 11. Marcello Sampson, 10. Justin van Staden, 9. Emile Temperman, 8. Lambert Groenewald (onderkaptein), 7. Nardus van der Walt, 6. Marnus Schoeman, 5. Jannie Stander, 4. Wiehan Hay, 3. Marné Coetzee, 2. Francois du Toit, 1. De-Jay Terblanche. Bank: 16. Frank Herne, 17. Khwezi Mona, 18. Stephan Greeff, 19. Dylan Peterson, 20. Johan Herbst, 21. Marlou van Niekerk, 22. Tyler Fisher.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.