Pumas verniel Griekwas vroeg in tweede helfte

ʼ

ʼn Puik vertoning in die tweede helfte het die Pumas in Nelspruit in staat gestel om Griekwas oortuigend in vanjaar se eerste Curriebeker-wedstryd te klop.

Hulle het op die ou end met 42-19 baasgespeel.

Chris Smith, die Pumas se losskakel, het 22 van sy span se punte aangeteken. Hy het ʼn drie gedruk en met vier doelskoppe en drie strafdoele geslaag.

Ná die redelike gelykop kragmeting in die eindstryd om die SuperSport-reeks in Oudtshoorn, toe die Pumas danksy ʼn skepdoel in beseringstyd met 32-30 gewen het, het die tuisspan se geringe rustydvoorsprong van 13-7 die belofte van nóg ʼn rillerstryd ingehou.

Helaas, toe die Laevelders vroeg in die tweede helfte na snelrat oorskakel, het die besoekers voor die skielike verhewigde aanslag geswig.

Teen die 51ste minuut was die Pumas met 42-7 voor, en toe eers het die Poubloues tot verhaal gekom, en in die laaste 10 minute nog 12 punte behaal – te min, te laat.

Die wenspan se vyf drieë het hom ʼn bonuspunt besorg, terwyl Griekwas droëmond terug Kimberley toe is.

Die puntemakers –

Pumas 42 (13) – Drieë: Hennie Skorbinski, Stefan Ungerer, Chris Smith, Neil Maritz, Marnus Schoeman. Doelskoppe: Chris Smith (4). Strafdoele: Chris Smith (3)

Griekwas 19 (7) – Drieë: AJ Coertzen, Christiaan Meyer, Conway Pretorius. Doelskoppe: George Whitehead (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.