Pumas wil vanjaar wen; nie net grom

Die vlugvoetige Devon Williams is een van die Pumas se gevaarmanne. Foto: GB Jordaan.

Ná twee wedstryde in vanjaar se Curriebeker-reeks is net die Blou Bulle bó die Pumas op die punteleer. Toegegee, die beker word definitief nie in Januarie gewen nie, tog maak die Laevelders deesdae die pap lekker dik aan.

Ja, hulle het in die eerste ronde teen ’n sterk Bulle-span in Mbombela verloor, maar het daarna die Leeus met ’n rekordtelling ore aangesit.

Die Pumas het toe ses drieë gedruk om die Johannesburgers met 50 – 9 te oorrompel.

En volgens Marius van Rensburg, die Laevelders se uitstekende uitvoerende hoof, was die uitslag nie die enigste rede vir Puma-glimlagte nie.

“Ons het opwindende rugby teen die Leeus gespeel; ’n mens kon sommer sien dat die spelers dit geniet om saam te speel,” het Van Rensburg gesê.

Hulle speel nou môre in ’n derderondewedstryd teen Griekwas in Kimberley.

“Dit is altyd ’n klipharde geveg wanneer ons en Griekwas kragte meet, maar terselfdertyd glo ek dat dit ’n wedstryd is waarna al twee unies uitsien.”

Van Rensburg meen dat daar ’n paar ooreenkomste tussen die Laevelders en die Noord-Kapenaars is.

“Ons is twee plaaslike franchises wat teen groter unies met internasionale ervaring moet kragte meet. Dan is daar ook ooreenkomste wat die hulpbronne ten opsigte van fondse en spelers betref.”

Terwyl baie ondersteuners mor dat die Curriebeker ’n afgewaterde reeks is, is die Pumas oorgehaal om hul beste te gee.

“Dit is ’n baie belangrike reeks vir die Pumas en dit is ’n goeie geleentheid vir ons om goed te doen. Ons sien uit om vanjaar baie wedstryde te wen.”

Die Pumas het verlede jaar ’n plek in die halfeindstryd rakelings misgeloop, terwyl hulle ’n hele paar spanne goed skrik gemaak het.

Dalk is 2022 die jaar waar hul grom in ’n triomftog verander; hulle is immers goed genoeg.

Pumas: Devon Williams (heelagter), Tapiwa Mafura (regtervleuel), Sebastian de Klerk (buitesenter), Ali Mgijima (binnesenter), Jade Stighling (linkervleuel), Tinus de Beer (losskakel), Lucky Dlepu (skrumskakel), Kwanda Dimaza (agsteman), Phumzile Maqondwana (kaptein en flank), Daniel Maartens (flank), Darrien Landsberg (slot), Malembe Mpofu (slot), IG Prinsloo (stut), Corné Fourie (haker) en Ruan Kramer (stut). Plaasvervangers: Llewellyn Classen, Dewald Maritz, Simon Raw, Brandon Valentyn, Khwezi Mafu, Giovan Snyman, Eddie Fouché en Alwayno Visagie.

Griekwas: Rynhardt Jonker (heelagter), Munier Hartzenberg (regtervleuel), Christopher Hollis (buitesenter), Zander du Plessis (binnesenter), Luther Obi (linkervleuel), Theo Boshoff (losskakel), Raegan Oranje (skrumskakel), Ruan Steenkamp (kaptein en agtsteman), Siba Qoma (flank), Niel Otto (flank), Derik Pretorius (slot), Mzwanele Zito (slot), Janu Botha (stut), Alandre van Rooyen (haker) en Eddie Davis (stut). Plaasvervangers: Janco Uys, Kudzwai Dube, Justin Forwood, Johan Retief, Hanru Sirgel, Michael Amiras, Johan Mulder en Sanog Xamlashe.

  • Woensdag se Curriebeker-bepalings:

15:30: Griekwas teen Pumas

17:45: Blou Bulle teen Cheetahs

20:00: Haaie teen Westelike Provinsie.

Curriebeker-punteleer:

  1. Blou Bulle: 10 punte
  2. Pumas: 5 punte
  3. Westelike Provinsie 5 punte
  4. Cheetahs: 4 punte
  5. Haaie: 4 punte
  6. Griekwas: 1 punt
  7. Leeus: 1 punt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
B-Man

Ek hoop hulle maak die bus vol voor vanaand 12:00.

AW

Sterkte !!!