ʼn Wedstryd in die Pumas se Hoëveldse Burgemeestersliga is weens ʼn donderbui vroeg gestaak, maar dit kon nie die wenspan van ʼn vyftigtal weerhou nie.
Die verdedigende kampioen en tans weer die voorloper in die liga, Standerton DeKalb, het sy wedstryd teen Tigers op Kinross met 53-0 gewen.
Johann ver Burgh, Standerton se sekretaris, sê die wenspan het nie op hom laat wag om punte aan te teken nie.
Juan Pieterse het drie pragdrieë gedruk, en Llewellyn van der Linde Botha twee. JC Scambriel, Danny Myburg, Hendrik Coetzee en JT Eksteen het eweneens onder die Tigers se pale gaan kuier.
Coetzee het 13 punte behaal deur ook vier van die span se drieë te verdoel.
Weens reën en ʼn donderbui is die eindfluitjie sewe minute te vroeg geblaas.
Ver Burgh sê die klub se taak is bemoeilik deurdat die tweede span op Middelburg teen dié klub se derde span moes gaan speel.
Die onoorwonne Middelburg III loop ook in sý liga voor.
“Standerton het rustyd nog ʼn goeie kans gestaan om te wen, met Middelburg wat slegs met 15-7 voor was.
“Hy het egter in die tweede helfte die stryd heeltemal verloor, en die tuisspan het ses drieë gedruk om met 43-14 te wen.”
Pierre Wessels het nege van Standerton se punte met ʼn drie en twee doelskoppe behaal. Jan Potgieter het die span se ander drie gedruk.
Ver Burgh loof Middelburg vir sy harde spel.
Standerton speel nou eers weer op 22 April op Secunda teen Sasol.
Die program –
B-veld
14:45 Bethal I teen Standerton I
A-veld
13:30 Sasol III teen Standerton II
14:45 Sasol II teen Nelspruit II
16:00 Sasol I teen Nelspruit I