Pumasliga: ongenaakbare einde vir Barberton

Wat sou Barberton nie wou gee nie om in sy 120ste jaar die Mpumalanga-rugbyunie (MRU) se Laeveldse Burgemeestersliga te wen?

Rugby kan egter ’n ongenaakbare spel wees, en die verjaardagklub moet nou maar verlief daarmee neem dat hy in sy feesjaar as naaswenner kon eindig, nadat Pumbas (Hoedspruit) hom Saterdag met 25-15 in die eindstryd getroef het.

In die streek se Burgemeestersreserweliga het Ngodwana in die eindstryd met 33-28 teen Belfast gewen.

Ermelo het die Hoëveldse Burgemeestersliga gewen deur boaan die punteleer te eindig, nadat Standerton hom verlede jaar as dié streek se kampioen onttroon het.

Wat die Hoëveldse Burgemeestersreserweliga betref, het Sasol III ’n strawwe rondomtaliestryd teen Middelburg III gewen deur hom met ’n enkele punt die loef af te steek. ’n Onverwagse nederlaag van 22-26 Saterdag teen Loskop II van Groblersdal het die Middelburgers die reeks gekos.

Anders as die Laeveldse spanne het die Hoëvelders vanjaar teen ’n uitspeelronde besluit.

Sasol jag driekuns

♦ Sasol van Secunda, die verdedigende Premierliga kampioen, is die komende naweek op soek na ’n driekuns nadat drie van sy spanne die eindronde in hul onderskeie ligas gehaal het.

Die eerste en tweede spanne speel Saterdag op Secunda onderskeidelik teen Witrivier in die Premierliga, en teen Nelspruit II in die Premierreserweliga.

Sasol het Middelburg in die een halfeindstryd met 36-12 geklop; en Witrivier het in die ander met 45-26 teen Nelspruit gewen.

Betreffende die Premierreserweliga se halfeindronde het Sasol II met 46-26 teen Middelburg gewen; en Nelspruit II het Witrivier II met 22-6 uitgeskakel.

Die eindstryde van Mpumalanga se Burgemeesters- en Burgemeestersreserweliga word Sondag in die Mbombela-stadion, Nelspruit, as voorwedstryd vir die Curriebekerstryd tussen die Pumas en die Lions beslis.

In die senior van die twee ligas meet die Hoëveldse kampioen, Ermelo, kragte teen die Laeveldse kroondraer, Pumbas; en in die ander een durf Sasol III (Hoëveld) vir Ngodwana (Laeveld) om die reserwetitel aan.

Ander uitslae

Hoëveldse Burgemeestersliga:

Standerton 83, Highveld 7; Carolina 24, Bethal 8; Ermelo 27, Matla 7.

Hoëveldse Burgemeestersreserweliga:

Highveld II gee punte teen Standerton II; Sasol III 72, Carolina II 0.

Opgesomde punteleer

Hoëveldse Burgemeestersliga:

Ermelo 54, Standerton 45, Loskop 41, Highveld 29, Bethal 24, Carolina 21, Tigers 0, Matla 4.

Hoëveldse Burgemeestersreserweliga:

Sasol III 52, Middelburg III 51, eMba I 41, Ermelo II 26, Highveld II 21, Loskop II 21, Standerton II 20, Carolina II 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.