Pumasliga: oudkampioen klop opvolger net-net

Ferro's logoDie vorige Mpumalanga-kampioen het sy opvolger Saterdag in `n spannende Premierliga-wedstryd met `n enkele punt geklop.

Shumba Ferro’s van Witbank het Saterdag die huidige kampioen, Witrivier, 25-24 geklop om te toon dat hy `n ernstige aanspraakmaker op vanjaar se Pumastitel en `n plek in die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker sal wees.

Die wenspan was rustyd reeds 22-10 voor.

Willem Oosthuizen, die hoofafrigter van Ferro’s, sê Witrivier, wat met verskeie gewese Pumas-spelers en `n makro-agttal spog, het hom vasgeloop in die rotsvaste verdediging en akkurate aanval van die Ferro’s-spelers.

Ferro’s het reeds van die afskop af gaan druk toe Ian Truter ná volgehoue druk onder die pale oorgeduik het.

Die Witbankse span het Witrivier in sy eie gebied vasgepen, en veral sy verdediging teen die groot Witivier-voorspelers het deurentyd die oog gevang.

“Met al die druk het Witrivier se verdediging onder verdenking gekom, met Jannie van der Merwe en Dewald Pieters wat ook agter die doellyn gaan kuier het.

“Tussen die voorspelers het Hugo van der Merwe (die speler van die wedstryd), Izan Green en Jeandi Oostuysen veral uitgeblink. Die jong Christo Swart het op vaskop sy man teen die gesoute WF Kotzé gestaan, terwyl MC Botes die Pumasstut Jacques Kotzé in die skrums in toom gehou het.

“Jovan Botha en Christiaan Els het gesorg dat die agterlyn se verdediging rotsvas staan, maar Ferro’s se agterlyn was effens vlak op die aanval, wat Witrivier twee keer in staat gestel het om onderskepdrieë te gaan druk.”

Oosthuizen sê Witrivier het in die tweede helfte knaend aangeval, maar Ferro’s het hom tot in sy gebied teruggedryf tot waar die laaste sowat 20 minute van die wedstryd uitgespook is.

Jannie van der Merwe, Truter en Pieters. Van der Merwe (die agterspeler van die wedstryd) het ook met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag.

Oosthuizen sê Ferro’s se tweede span moes teleurgesteld van die veld stap ná hy feitlik die volle wedstryd lank in beheer was en vier drieë gedruk het, bloot om met `n strafdrie in die laaste minuut van die wedstryd 25-27 teen Standerton te verloor.

Ferro’s was rustyd reeds 17-12 voor.

Juandré Schmidt was die speler van die wedstryd en Ryno Hattingh die beste voorspeler.

Oosthuizen sê Ferro’s II het vele kanse op die aanval met slordige aangeewerk verspil. Dit kon die telling buite Standerton se bereik geplaas het.

“Hulle het egter as `n span baie goed saamgespeel en veral Jacques Nel en John St Claire in die middelveld het beïndruk.

“Roché Burger se drie – toe hy uit Ferro’s se 22-m-gebied weggebreek het om onder die pale te gaan druk – was een van die hoogtepunte van die wedstryd.”

Die tweede span se drieë is deur Musa Mulambo, Burger en Roelof Kotzé (twee) gedruk. Schmidt het met `n doelskop en `n strafskop geslaag.

Ferro’s II en III speel op 7 Mei tuis teen onderskeidelik Kriel en Carolina, en die eerste span speel eers weer op 14 Mei in Nelspruit teen dié Laevelders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.