In `n haas ongelooflike ommekeer sedert verlede jaar het die Mpumalanga-rugbyunie (MRU) se Premierliga (verlede jaar die Superliga) as ‘t ware bollemakiesie geslaan.
Waar die Laeveldse spanne verlede jaar oorheers het, is dit vanjaar die Hoëveldse spanne wat die toon aangee.
Witrivier, die heersende kampioen en die span wat die bond later vanjaar in die internasionale reeks om die Goue Beker verteenwoordig, kon dusver net een uit sewe wedstryde wen en is die agteros in die reeks.
Met slegs twee onafgehandelde wedstryde loop Sasol (Secunda) voor met 27 punte, Ferro’s (Witbank) is tweede met 23, en Middelburg derde met 20.
Verlede jaar se naaswenner, Nelspruit, het al sy bepalings nagekom en is tweede laaste nadat hy net twee van sy agt wedstryde kon wen en twee gelykop gespeel het.
Luidens `n verklaring wat die MRU in Nelspruit uitgereik het, is die Ngangala- en die Gert Sibande-burgemeestersliga asook die Hoëveld- en Ehlanzeni-burgemeesterreserweligas pas afgehandel.
Die spanne van die Burgemeestersligas speel nou oorkruis in `n uitklopreeks, waarna die Hoëveld- en Laeveldwenner om die kampioenskap uitspeel. Die wenner sal teen die onderste span in die Premierliga om bevordering uitspeel.
Die boonste reserweligaspanne van elke streek speel teen mekaar uit om die Mpumalanga-kampioen te kroon.
Ngangala
Ngangala se liga is deur Middelburg II oorheers, wat sewe van sy agt wedstryde gewen het.
Hulle het slegs 73 punte deur die seisoen afgestaan en 290 aangeteken. Tweede was die Hurricanes van Witbank se Performance-rugbyakademie met 27 en Ferro’s II met 21 ligapunte.
Henk Prinsloo, `n afrigter van die Hurricanes, laat weet die span het Saterdag sy kwarteindstryd teen Sasol II 24-10 gewen (rustyd 10-3).
“Hurricanes het as span stewig verdedig. Hy het hoegenaamd nie teruggestaan vir Sasol se groot voorspelers en vinnige agterspelers nie. Dit was `n volmaakte spanpoging om die wedstryd te beklink,” het hy aan Pale Toe! gesê.
Julius Snyman, die binnesenter en `n gewese Sharks-o.21-speler is as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het `n drie gedruk en met twee doelskoppe geslaag.
Johan van der Westhuizen (vleuel en onderkaptein) en Branden Niemann (slot) het die ander drieë gedruk, en Jaco Visser (heelagter) het `n strafdoel en `n doelskop behaal.
Die hoofafrigter, Addie de Wit, het ná die wedstryd gesê die span se sprokiejaar is nog nie ten einde nie en hy moet voortbou op wat hy dusver bereik het.
Die Hurricanes speel Saterdag 9 Julie weg teen Standerton in die halfeindstryd.
Gert Sibande
Standerton was op sy beurt onoorwonne in die Gert Sibande-liga en het `n puntefees geniet deur 465 punte in te samel teen die 43 van sy teenstanders. Hy het 38 ligapunte opgestapel. Ermelo is tweede met 26 punte en Sasol II derde met 19.
Ehlanzeni
Witrivier II moet nog in die Ehlanzeni-burgemeestersliga teen die Rooikatte van Lydenburg speel, maar Barberton is met 43 ligapunte ver voor. Komatipoort se Impalas is tweede met 31.
Pelgrimsrus se Ratels het die Ehlanzeni-burgemeestersreserweliga gewen deur slegs een uit tien wedstryde te verloor. Met 348 punte vir en 67 teen hom, het die span 45 ligapunte aangeteken. Acornhoek se Pumbas is tweede met 44 punte.
Opgesomde punteleer –
Premierliga
Sasol 27, Ferro’s 23, Middelburg 20, Nelspruit 13, Witrivier 11.
Ngangala-burgemeestersliga
Middelburg II 34, Hurricanes 27, Ferro’s II 21, Matla 4, Kriel 1.
Gert Sibande-burgemeestersliga
Standerton 38, Ermelo 26, Sasol II 19, Carolina 14, Tigers (Kinross) 0.
Ehlanzeni-burgemeestersliga
Barberton 43, Impala 31, Witrivier II 26, Malelane 23, Rooikatte 22, Nelspruit II 7.
Ehlanzeni-burgemeestersreserweliga
Ratels 45, Pumbas 44, Hazyview 25, Barberton II 10, Nelspruit III 6, Belfast 6.
Hoëveld-burgemeestersreserweliga
Standerton II 40, Sasol III 25, Ermelo II 8, Carolina II 5, Middelburg III 3.
(Klubbesture word genooi om bondige wedstrydverslae Maandae voor 11:00 vir publikasie aan Pale Toe! by [email protected] te stuur.)