Pumasliga: Standerton ryg die bekers in

Standerton teen Ermelo. (Foto: Ink Media)

Standerton teen Ermelo. (Foto: Ink Media)

Standerton Dekalb is besig om die bekers in te ryg in die Mpumalanga-rugbyunie (MRU) se ligas.

Alida Lake, `n woordvoerder van die klub, berig die klub is Saterdag as die Hoëveldstreek se kampioen gekroon nadat hy reeds die Gert Sibandestreek se titel gewen het.

Hy het Ermelo Saterdag oortuigend 24-6 geklop, en pak komende Saterdag 15:30 vir Barberton, die Laeveldse wenner, op die veld van die Hoërskool Standerton om die Burgemeestersbeker.

Lake sê Ermelo het in die eerste helfte nie juis beïndruk nie en Standerton het rustyd gemaklik 18-6 voorgeloop.

“Standerton het in die tweede helfte alles in die stryd gewerp en gesorg dat Ermelo nie `n enkele punt kon byvoeg nie.”
Riaan Groenewald vir 14 van die wenspan se punte gesorg met `n doelskop, drie strafdoele en `n skepdoel.
Juan Pieterse en Juan (Shrek) Kotzé het Standerton se drieë gedruk.

Ermelo se tweede span het op sy beurt 25-23 gewen, nadat Standerton II vroeër die Gert Sibandestreek gewen het.

“Dit was uit die staanspoor `n taai wedstryd en geeneen van die spanne wou bes gee nie,” laat weet Lake.

“Standerton was na 21 minute reeds 13-10 voor. Dit was ook die rustydtelling.

“Hy het in die  tweede helfte twee driee gedruk, maar kon dit nie verdoel nie.

“Ermelo het die wenpunte kort voor die eindfluitjie aangeteken om Standerton sy eerste nederlaag van die seisoen toe te dien.”

Eddison Mputhi en Ockert Brits het Standerton se drieë gedruk. Brendan Coetzee het een verdoel en met twee strafdoele geslaag.

Ben Vorster, Standerton se voorsitter, doen `n oproep op ondersteuners om Saterdag in hul hondertalle die span te gaan ondersteun.

Hy wys ook daarop dat daar nog `n beperkte voorraad ondersteunersbaadjies teen R450 stuk beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.