Punte vir Bulls in Parma

Die Bulls het ses drieë gedruk om vir Zebre met 45 – 7 te klop. Foto: Twitter.

“Sending Puntebymekaarmaak” is suksesvol deur die Bulls in Parma uitgevoer toe hulle Zebre met 45 – 7 in ’n Verenigde Rugbykampioenskapwedstryd geklop het.

Die Pretorianers se ses drieë beteken dat hulle nou tiende met 23 punte op die reeks se punteleer is.

Hulle het egter bra stadig begin en toe hulle ná 29 minute se spel nog nie ’n drie kon druk nie, het ’n mens onwillekeurig aan verlede jaar se rampspoedige Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton in Treviso begin dink; dalk hou Marcell Coetzee-hulle maar net nie daarvan om in Italië te speel nie.

Tog was hul eerste drie aan tipiese Bulls-rugby te danke: ’n Lynstaan is naby Zebre se doelgebied afgedwing en Johan Grobbelaar het ná ’n sterk rolmaalbeweging oor die doellyn geval.

Dit was die vonk wat die besoekers se kruitvat nodig gehad het en skielik was daar weer tekens van die span wat die een plaaslike reeks na die ander gewen het.

Die samespel tussen die voor- en agterspelers was baie goed, terwyl Chris Smith ’n foutlose aand agter die skopkelkie gehad het.

Kurt-Lee Arendse het sy Blitsbok-vaardighede ook ten toon gestel en die arme Italianers moes omtrent bontstaan om by te bly.

Ja, die Bulls sal tevrede wees met die uitslag, maar hulle sal ook bekommerd wees oor hul stotter-vertoning in die eerste helfte.

Teen sterker spanne soos Munster en kie gaan daar nie noodwendig ’n terugkomkans wees nie.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Johan Grobbelaar, Embrose Papier, Marcell Coetzee, Arno Botha, Lionel Mapoe en Kurt-Lee Arendse. Doelskoppe: Chris Smith (6). Strafskop: Smith.

Zebre Parma: Drie: Antonio Rizzi. Doelskop: Rizzi.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster 43 punte
  2. Ulster 40 punte
  3. Glasgow Warriors 39 punte
  4. Munster 34 punte
  5. Edinburgh 34 punte
  6. Ospreys 26 punte
  7. Connacht 24 punte
  8. Stormers 23 punte
  9. Benetton 23 punte
  10. Bulls 23 punte
  11. Sharks 21 punte
  12. Cardiff 18 punte
  13. Scarlets 17 punte
  14. Lions 12 punte
  15. Dragons 11 punte
  16. Zebre 1 punt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Bulle voorspelers die opposisie pap gespeel. Waar is al die grootmonde nou ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.